AO Hennie Swarts (59) Foto: SAPD


Die besluit van ’n ongeduldige vragmotorbestuurder om verby ’n motor wat agter ’n stilstaande vragmotor gewag het, te ry en die stukkende vragmotor verby te steek, het Saterdagmiddag noodlottige gevolge gehad.

Heel voor in die aankomende verkeer op die Velddrif-Piketbergpad dié middag omstreeks 16:45 was die gesoute polisieman AO Hennie Swarts (59) en konst. Donovan Katzke (29) van die Laaiplek-polisiekantoor in Velddrif. Hulle was op pad na ’n plaas in die omgewing om ’n klagte te ondersoek.

ao swarts

AO Hennie Swarts (59) Foto: SAPD

Konst. Donovan Katzke (29)

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisie, sê die vragmotor wat Moses Tom bestuur het, het reg van voor teen die polisiebakkie gebots.

Swarts, ’n skofbevelvoerder wat oor ’n jaar sou aftree, is op slag dood en Katzke is ernstig beseer.

Tom is in hegtenis geneem en het Maandag op ’n aanklag van strafbare manslag in die Laaiplek-landdroshof verskyn. Hy het geen beserings in die ongeluk opgedoen het nie.

Swarts en Katzke is twee van sy staatmakers, het die bevelvoerder, Bossie Bostelmann, gesê.

“Swarts was geliefd onder almal – polisielede, die gemeenskap, die buurtwag, die gemeenskapspolisiëringsforum, die sakekamer . . . Hy was nog old school en het geglo dat ’n ding reg of weg is.”

Swarts het sowat 42 jaar gelede by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangesluit en het diens gedoen in onder meer KwaZulu-Natal en die Vrystaat voordat hy sewe jaar gelede by Laaiplek vir diens aangemeld het.

Katzke is al agt jaar ’n polisieman – ’n werk wat hy volgens sy vrou, Chane, geniet. Hy werk al amper vyf jaar by die Laaiplek-polisiekantoor.

Vir Chane is dit ’n wonderwerk en “ ’n goddelike ingryping” dat haar man nog lewe. Hy het sy bobeen, knie, voorarm, regtervoet en sy kakebeen op twee plekke in die botsing gebreek. Hy is tot gister (Woensdag 24 April) onder verdowing gehou. Die swelling en bloeding op sy brein het al beter gelyk, maar daar is ’n groot kans dat hy ’n tyd lank aan korttermyngeheueverlies kan ly.

Katzke het reeds Sondag ’n ses uur lange operasie gehad om die gebreekte ledemate te heg, maar sy regtervoet gaan nog verskeie operasies verg om heeltemal te herstel.

Chane het gesê hy gaan ook chirurgie aan sy gesig moet kry.

Daar lê nog ’n swaar herstel- en rehabilitasietyd vir Katzke voor. Die dokters voorspel tussen drie tot ses maande.

Johnny da Silva, voorsitter van die Velddrif-sakekamer, sê die sakegemeenskap verneem met ’n swaar hart en groot hartseer van Swarts se dood. “Hy was ’n toegewyde en waardevolle lid van die gemeenskap wat erg gemis sal word. Ons eer sy diens en die impak wat hy op diegene rondom hom gehad het. Mag sy siel in vrede rus.”

Swarts se vrou wil nie in hierdie stadium met die media praat nie.. ’n Begrafnisdiens vir Swarts word môre (Vrydag 26 April) om 11:00 in die NG Kerk Velddrif gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article