Die Wes-Kaapse polisie se teenkorrupsie-ondersoekeenheid het ’n adjudant-offisier by die Vredenburg-polisiekan­toor Woensdag (30 Oktober) in verband met korrupsie in hegtenis geneem.

Die 51-jarige adjudant-offisier is een van die gesoute polisiebeamptes by dié kantoor.

Volgens kapt. Tania Helfrich, die Weskus-polisiewoordvoerder, is die inhegtenisneming Woensdagoggend by die polisiekantoor uitgevoer.

Die saak teen hom hou verband met ’n voorval op 12 Maart vanjaar. Die bewering is dat hy ’n beskuldigde in ’n dronkbestuursaak wat hy ondersoek het, versoek het om na Vredenburg te kom. Hy het die beskuldigde by ’n winkelsentrum op Vredenburg ontmoet.

Die polisiebeampte het glo aangedui dat hy die man kan bystaan om die aanklagte te laat terugtrek teen ’n betaling van R1 500. Dit sou glo verseker dat sy saak teruggetrek word. Sy optrede is egter by die teenkorrupsie-eenheid aangemeld, waarna die saak ondersoek is.

Die dossier is aan die direkteur van Openbare Vervolging voorgelê vir beslissing. Die besluit was om die adjudant-offisier op ’n aanklag van korrupsie aan te kla.

’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is Maandag (28 Oktober) gemagtig en hy is om 10:30 in sy kantoor by die Vredenburg-polisiekantoor in hegtenis geneem.

Die naam van die betrokke polisiebeampte is aan Weslander bekend, maar word weerhou totdat hy vandag (Donderdag 31 Oktober) in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van korrupsie verskyn.

Genl.maj. Sizakhele William Dyantyi, die Weskus-distrikskommissaris, het beklemtoon dat korrupsie nie in die Weskus-distrik geduld sal word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article