Die nuwe speelpark in Dordrechtstraat, Vredenburg, het uiteenlopende reaksies by inwoners ontlok.

Sommige inwoners beskou dit as ‘n welkome toevoeging – ‘n plek waar kinders kan speel en waar die gemeenskap kan vergader. Ander voel dit is oorbodig, aangesien die Ponte Hoeft-parkie reeds nabygeleë is. Hulle meen die geld kon eerder aan basiese infrastruktuur soos paaie en waterdienste bestee word.

In dieselfde straat is daar al geruime tyd ook slaggate en sand op die pad . . .

Albei standpunte het meriete. Openbare parke dra tot die gesondheid en welstand van ‘n gemeenskap by, tog moet dit nie ten koste van dringende infrastruktuurbehoeftes kom nie.

Slaggate, byvoorbeeld, raak inwoners daagliks.

Die feit dat die projek so duur is en stadiger vorder as beplan, plaas dit natuurlik onder die vergrootglas.

Daarby is daar die persepsie dat inwoners nie genoegsaam voor die tyd geraadpleeg is nie, wat ‘n gevoel van vervreemding tussen die gemeenskap en die munisipaliteit bring.

As die park voltooi en goed bestuur word, kan dit steeds ‘n bate wees.

Die polemiek rondom die park maak dit weer eens duidelik dat inwoners geken wil word in sake wat hul buurt raak.

‘n Park kan waarde toevoeg, mits dit deel vorm van ‘n groter, gebalanseerde plan om werklik die lewensgehalte van Vredenburg se inwoners te verbeter.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article