Kinders in Hopefield swem gereeld in die poele van die Bergrivier.Foto:


’n Inwoner van Hopefield bekommer hom oor die welstand van jong kinders en inwoners.

Volgens die inwoner is daar ’n groep jong kinders wat gereeld kaal in vlak poele in die Bergrivier in die omgewing van Rivierstraat swem.

Hy sê dit kan nie goed wees vir hul gesondheid nie omdat dit stilstaande water is. Dit is ook nie ’n goeie gesig vir inwoners van die omliggende gebied nie.

Die kinders swem gereeld in die rivier in die rigting van die R45 en volgens die inwoner is dit juis die tyd van die jaar wanneer die rivier nie vloei nie en die vlak poele stilstaande water het.

Die inwoner skat die kinders tussen nege en 17 jaar oud.

“Ek sien hulle amper elke dag daar, so van 12:00 tot 15:00. So jonk soos hulle is, staan hulle ook en rook dagga. Dit is nie mooi om te sien nie. Daar is mense wat daar woon wat baie geld uitgegee en belê het en dit moet aanskou.”

Die inwoner sê daar is al verskeie kere met die munisipaliteit kontak gemaak oor die kwessie, maar niks word daaraan gedoen nie.

Volgens Ethne Lawrence, woordvoerder van Saldanhabaai-munisipaliteit, is dit die eerste keer dat ’n klagte hieroor aan die wetstoepassingsafdeling gerig is.

“Die afdeling sal roetine-inspeksies uitvoer om ’n omvattende begrip van die betrokke aangeleentheid te verkry. Die rivier in Hopefield val nie onder die jurisdiksie van die munisipaliteit nie,” sê hy.

Lawrence voeg by gebaseer op die munisipale verordening met betrekking tot paaie en strate sal die wetstoepassingsafdeling egter dienooreenkomstig optree indien daar enige oortredings is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article