Afrika kan binne die volgende vyf tot tien jaar sy eerste diep ondergrondse wetenskaplaboratorium hê, met die totstandkoming van die Paarl Africa Underground Laboratory (PAUL) in die Du Toitskloof-berge.
Die PAUL-projek is verlede week amptelik bekendgestel in die nadraai van die week lange internasionale simposium by Du Kloof Lodge, waartydens huidige en toekomstige navorsingsprojekte en samewerking met ander internasionale diep ondergrondse laboratoriums bespreek is.
Die Simposium oor Wetenskap by PAUL het van 14 tot 18 Januarie plaasgevind en ’n besoek aan die voorgestelde terrein ingesluit.
Die toekomstige Paarl Africa Underground Laboratory (alreeds ’n dekade lank in die vooruitsig) sal ’n eerste vir Afrika wees en slegs die tweede soortgelyke laboratorium in die Suidelike Halfrond, benewens Australië se Stawell Underground Physics Laboratory. Daar is tans ’n dosyn sulke ondergrondse laboratoriums wêreldwyd, onder meer in Asië, Europa en Noord-Amerika.
Prof. Sibusiso Moyo, adjunk-visekanselier: navorsing, innovasie en nagraadse studie aan die US, sê PAUL sal ’n nuwe speelveld vir universiteite in die Wes-Kaap, Suid-Afrika, Afrika en vir sy vennote oopmaak.
“Dit was wonderlik om hierdie week die plaaslike en internasionale fisika-gemeenskappe se belangstelling in hierdie inisiatief te sien.
“Te danke aan die departement van wetenskap en innovasie se steun was ons fisici in staat om hul werk te meet teen dié van fisici afkomstig van laboratoriums van wêreldgehalte. Hierdie blootstelling sal ons help met ons langtermyn-beplanning en bou van ’n ekosisteem van navorsing in hierdie opwindende veld.
“Die omliggende gemeenskappe sal ook hieruit deur nuwe werksgeleenthede en vaardigheidsopleiding voordeel trek,” sê Moyo.
Wat is diep ondergrondse laboratoriums?
Donker materie maak 85% van die heelal se massa uit, maar die presiese aard daarvan is nog onduidelik.
Sedert die jare sewentig word ondergrondse laboratoriums gebruik om te soek na sub-atomiese deeltjies waaruit donker materie bestaan, soos neutrino’s en muons, en om hulle in radioaktiwiteitvrye omgewings te bestudeer.
Dit is slegs in hierdie ondergrondse laboratoriums –waar ’n dik rotslaag sensitiewe opsporingtoerusting beskerm teen ongewenste agtergrondseine wat deur kosmiese straalbuie geproduseer word – waar wetenskaplikes die onderlinge interaksie van hierdie seldsame deeltjies van die geraas aan die bokant kan onderskei.
Hierdie uiters seldsame gebeurtenisse sluit onder meer dubbele beta-verval, geo-neutrino’s, reaktor-neutrino’s en donker materiedeeltjies in.
Prof. Richard Newman, ’n kernfisikus van die US se departement fisika en medevoorsitter van die simposium se reëlingskomitee, sê die fisika-gemeenskap in Suid-Afrika ondersoek reeds sedert 2011 die totstandkoming van so ’n laboratorium.
Aanvanklike opsies vir oorweging was Suid-Afrika se baie diep goudmyne.
Reeds in 1965 het die Suid-Afrikaanse fisikus Friedel Sellschop en die (toe nog toekomstige) Nobelpryswenner Frederick Reines die eerste waarneming ter wêreld gemaak van ’n kosmiese natuurlike neutrino-deeltjie in ’n Oos-Randse myn, drie kilometer onder die aardoppervlak.
Dr. Julia Cooley, uitvoerende direkteur van Snolab in Kanada, sê hulle is gretig om die vestiging van ’n diep ondergrondse laboratorium in Suid-Afrika te ondersteun.
“Dit is een van ons doelwitteom ons kennis en kundigheid met die res van die wêreld te deel.”



