As kind het Lusie Steyn altyd daarvan gehou om mooi goed vir die huis self te probeer maak.
Dié kunstenaar van Yzerfontein was van kleintyd af al kunstig en het lappoppe en beertjies gemaak.
Steyn het egter in 2010 ’n liefde vir piouter (’n mengsel van lood en tin waarvan sierware gemaak word) ontdek nadat sy haar werk verloor en haar eerste kunsklas bygewoon het. “Daar het ek met piouter kennis gemaak en gedink dis sommer net blik. Ek het my eerste piouter-stuk ná ’n hele paar kunsklasse en aanmoediging van ander kunstenaars gemaak en nooit weer opgehou nie.”
Namate tyd verloop het, het Steyn meer tegnieke geleer. “Ek wil amper sê piouter het my gevind.”
Steyn sê sy gebruik tweesydige piouter wat 0,152 mm dik is en loodvry is, wat dit baie veilig maak om mee te werk. Sy verduidelik dat dit soos ’n metaalblad lyk wat 0,5 m breed is. “Die beginsel is om die piouter te reliëf, bedoelende dit met die vingers herhaaldelik uit te druk en terug te druk totdat die gewenste driedimensionele effek gekry word. Piouter is baie veelsydig en kan op hout, glas of enige ander oppervlak geplak word. Dit word met reliëfwerk gevorm en met natuurlike byewas opgevul om sy vorm te behou,” vertel Steyn.
Om haar eie stempel op dié kunsmedium te sit, het Steyn besluit om haar stukke te raam en in kunswerke om te skep.
Wanneer dit by haar inspirasie kom, vertel Steyn sy het dit reeds. “Dis so bevredigend om iets met ’n plat stuk piouter te begin en te sien hoe dit vorm aanneem en hoe dit wat in my kop is, uitwerk. As ek met die eindproduk tevrede is, is dit genoeg beloning vir my.”
Volgens Steyn is elke stuk wat sy maak, op sy eie manier haar gunsteling. “Maar my musieknote, waarvan ek drie verskillendes gemaak het, bly maar vir my spesiaal. Dit verg ongelooflik baie tyd en beplanning om elke klein stukkie in die volgende te laat invloei.”
Hoogtepunte wat Steyn beleef het vandat piouter haar gevind het, is haar heel eerste solo-uitstalling.
“Hier wil ek wyle oom Pieter Milard, ’n bekende internasionale kunstenaar, asook sy kinders bedank vir hul aanmoediging en ondersteuning om my te help vorder tot waar ek vandag is.”
Steyn bied ook piouter-kunsklasse aan om mense meer van dié kunsvorm bewus te maak. “Soos met enige kuns, verskil elke mens se siening en aanvoeling, en individualiteit is belangrik. Dis ook bevredigend as mense vir klasse kom en dink hulle kan niks skep nie, maar met ’n pragstuk uitstap. Jy hoef nie noodwendig kunssinnig te wees om met piouter te werk nie.”
Sy moedig kunstenaars aan om kritiek tot hul voordeel te gebruik. “Mense met min of geen kennis van jou kunsvorm nie sal gewoonlik die meeste kritiek lewer, maar probeer daai kritiek tot jou voordeel te gebruik.”
Steyn se kunswerke word tans by Brickwall Galery in Hopefield uitgestal en sy is ook deel van die Yzerfontein-kunsroete.. Kontak Steyn by 082 574 4615 of stuur e-pos na Lusiesteyn27@gmail.com vir nog inligting.





