Verskeie
invloedrykes en instansies vra dat die polisieminister die moord op ’n
Piketberg-boer prioritiseer.
’n Boer se
lyk is Woensdag 4 Augustus op sy plaas in die Piket-Bo-Berg deur plaaswerkers
gevind nadat hy vermoedelik in die donker oggendure beroof en vermoor is.
Volgens die
polisie is Hendrik Pistorius (53) se lyk op sy afgeleë blomme- en vrugteplaas,
New Caledonia in die Bergrivier-distrik wat sowat 30 km van Piketberg geleë is,
ontdek.
Vroeë
nuusberigte het beweer Pistorius, wat alleen in die plaashuis gewoon het, se
lyk is in ’n drom gevind. Die Piketberg-polisie het egter intussen bevestig die
lyk is onder ’n plastiekhouer wat vir vrugte gebruik word, gevind.
Provinsiale
polisiewoordvoerder Kapt. Frederick van Wyk het gesê Pistorius se beserings dui
daarop dat hy ’n hou teen sy kop weg het.
Die
Piketberg-polisie se verslag aan Weslander het verduidelik Pistorius is met ’n
stomp voorwerp agter teen sy kop en in sy gesig geslaan.
Die polisie
glo die motief vir die moord was roof, aangesien daar ook geld uit Pistorius se
lessenaar weg is.
Volgens Van
Wyk is die skuldiges steeds soek. Leidrade en inligting wat opgevolg word gee
die polisie rede om te glo dat een of twee verdagtes by die misdaad betrokke
was.
AO. Silke
Lourens, die woordvoerder van Piketberg-polisie het skriftelik aan Weslander
bevestig dat Pistorius se selfoon op die toneel gevind is en na Kaapstad vir
analise gestuur is. Sy beursie is nie gevind nie.
Volgens die
verslag word daar steeds op die georganiseerde misdaad-eenheid in Kaapstad
gewag om die dossier oor te neem, andersins sal die misdaad plaaslik ondersoek
word.
Sedert die
slegte nuus oor Pistorius se dood Woensdag op sosiale media gebreek het, het
verskeie invloedryke individue en instansies die moord veroordeel.
Thoko
Didiza, die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het
hom sterk uitgespreek teen die “barbaarse daad” asook Jannie Stydom, die hoof
van Agri Wes-Kaap en Ian Cameron, die direkteur van gemeenskapsveiligheid by
die nie-winsgewende organisasie, Action Society wat onlangs in die kollig was
vir sy openbare konfrontasie met die polisieminister, Bheki Cele.
André
Truter, die burgemeester van Saldanhabaai-munisipaliteit, die
Bergrivier-munisipaliteit se naburige munisipaliteit het ook die moord op
Pistorius veroordeel aangesien hy self ook ’n aktiewe buurtwaglid in sy dorp is
en passievol oor misdaadbekamping is. Hy het gesê “’n aanval op ’n boer of
werkers is ’n aanval op die land.”
“Omtrent
39% van die werke in ons gebied is in die landbousektor,” het hy verduidelik.
Truter het
ook gesê Pistorius wat ’n girokopter besit het, was ’n lojale lid van die
plaaslike vliegklub.
“Ons doen
’n beroep op minister Cele om die moord as ’n prioriteitmisdaad te verklaar.”
Pistorius
is deur sy plaaswerkers as ’n “saggeaarde en nederige mens” beskryf.



