Só lyk die perlemoen van R1,8 miljoen.Foto: SAPD


’n Vermeende smokkelaar wat sowat 6 500 perlemoene met ’n straatwaarde van R1,8 miljoen by hom gehad het, is Vrydag (19 Januarie) by ’n padblokkade by Clanwilliam aangekeer.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, is die voertuig wat Recado Hendricks (42) bestuur het, agternagesit omdat hy ’n U-draai gemaak het toe hy die blokkade omstreeks middernag op die N7 gewaar.

Verkeersbeamptes by die blokkade het hom agternagesit en voorgekeer. Hulle het sy rybewys nagegaan en besef dat hy met net ’n leerlinglisensie rondry, en dat hy reeds in 2008 aangekeer is omdat hy sonder ’n geldige rybewys bestuur het.

Vrydagnag kon hy ook nie ’n geldige permit toon vir die 6 574 perlemoene wat met die deursoeking van sy voertuig gevind is nie. Polisiebeamptes het hom in hegtenis geneem.

Hendricks het Maandag 22 Januarie op aanklagte van bestuur sonder ’n geldige rybewys en die smokkel van perlemoen in die landdroshof verskyn.. Nog ’n man is by ’n padblokkade voorgekeer omdat hy sonder ’n geldige lisensie bestuur het.

Russel Hayes (23), oorspronklik van Prieska in die Noord-Kaap, is Donderdag (18 Januarie) by ’n padblokkade by Vanrhynsdorp aangekeer nadat hy aan beamptes erken het dat hy sy lisensie “gekoop” het. Hayes het reeds op 19 Januarie in die landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article