Paternoster het Saterdag binne die eerste vyf minute gaan druk en wou hierdeur ’n sterk boodskap aan die span van Piketberg stuur dat hulle nie gekom het om te kom kuier nie.


Paternoster het Saterdag binne die eerste vyf minute gaan druk en wou hierdeur ’n sterk boodskap aan die span van Piketberg stuur dat hulle nie gekom het om te kom kuier nie.

Dié wedstryd is in Piketberg in die Grootuitdaagkompetisie van die Weskus-afdeling gespeel.

Net voor die afskop het Piketberg gasheer gespeel vir ’n wedstryd tussen sy unie, Boland, en die Oostelike Provinsie. Dit het deurentyd gelyk of die wedstryd gunstig vir albei kante kon wees. Boland het uiteindelik daarin geslaag om die wedstryd te beklink, met ’n sege van 48-40.

Paternoster se groot voorspelers het in hul wedstryd behoorlik ingeklim en die flank, Will Chester, kon vroeg gaan druk. Met ’n verdoelde skop deur Hillford Clarke, en met nog ’n strafdrie, loop die manne van Paternoster gou met 14-0 voor. Die strafdrie was die gevolg van ’n dryfmaalbeweging naby die doellyn van Piketberg en Clayton Adams is vir ongeoorloofde spel met ’n geelkaart gestraf.

Net hierna bevind Piketberg hom vir die eerste keer in ’n aanvallende posisie voor die doellyn van Paternoster. Die Rhino’s se voorste driedrukker van die seisoen, Sashin Dirks, tik vinnig om onder die pale te gaan druk.

Met twee drieë deur Juwaan Willemse en Roberto Clarke kon Paternoster ’n bonuspunt vir vier drieë, met die telling op 24-7, vier.

Piketberg se hardlooprugby, teenoor Paternoster se voorspeler-dryfspel, het laat herinner aan die twee pole van ’n magneet, so erg het albei spanne verskil in die manier hoe elk die wedstryd benader het.

Met Will Chester se tweede drie reeds in die eerste helfte en ’n strafskop deur Piketberg se Waydon Baadjies, breek die rustyd aan, met Paternoster voor in ’n gerieflike posisie met 31-10.

Vir party opponente behoort Sashin van die Rhino’s nou soos die spreekwoordelike vlieg in die salf te wees. Hierdie jong en opwindende speler het menige opponente aan die slaap betrap. Een van sy sodanige aksies het gelei tot ’n lang aangee na sy buitesenter, Charlten Basson, wat met gemak oor die doellyn in die regterkantse hoekie kon oorseil.

Al het die spelers van Paternoster ook hoe baie hanteerfoute begaan, kon hul sterker skrum keer op keer deur vasskoppe weer die balbesit wen.

Paternoster voer ook ’n skêrbeweging voor die doellyn uit en die bal kon na binne gevoer word, na Adriaan Cloete, wat onder die pale gaan kuier. Ná nog ’n drie deur Ronaldo Bester en ’n strafskop deur Hillford kon die spelers van die Rhino’s ’n sug van verligting slaak toe die eindfluitjie blaas.

Met die eindtelling op 48-15 in die guns van Paternoster en met die houtlepel in die hand op die punteleer, moet die manne van Piketberg hulself vra: “Is ons op die regte koers?”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article