“Dit kan
jy weer sê!”
Só het
Elmaré Carosini spontaan uitgeroep toe Weslander aan haar noem dat haar
skoonpa, Johan Carosini, en skoonma, Wilna Carosini, twee groot “legendariese
Weskussers” was.
Johan, ’n
welbekende en charismatiese plaaslike hotelier, is Dinsdag 22 Junie oorlede –
skaars vier maande ná Wilna se dood.
Johan was
ook veral bekend vir die eiesoortige en voorheen omstrede Panty Bar wat hy
destyds by die Paternoster-hotel bedryf het – ’n kroeg wat vandag steeds talle
besoekers na die instelling lok.
Johan is
in 1939 in Laaiplek gebore. Hy en Wilna het eers die Hoedjiesbaai-hotel besit
en later die Paternoster-hotel in 1973 gekoop. Dié onderneming behoort vandag
nog aan die Carosini-familie.
Johan is
Maandag 21 Junie in die hospitaal opgeneem nadat hy skielik verswak het. Hy is
Dinsdag oorlede. Elmaré sê haar skoonpa het vier jaar gelede ’n
hartomleiding-operasie ondergaan, maar hy was nie sieklik nie en is nie “aan
iets spesifiek” dood nie.
Sy vrou en
steunpilaar is in Februarie vanjaar aan kanker dood en volgens Elmaré het haar
skoonpa gesukkel om haar dood te verwerk.
Wilna was
self ’n “groot gees” en welbekend in Paternoster.
Die hotel
se personeel het met die bekendmaking van Wilna se dood haar in hul
eerbetuiging as ’n “merkwaardige en hardwerkende” vrou beskryf “wat baie lief
was vir haar familie, vriende en personeel”. Net soos medelye in Februarie van
oral vir Wilna ingestroom het, stroom dit ook nou vir Johan in.
“Ons waardeer
al die boodskappe en oproepe opreg. Ons is oorweldig deur al die ondersteuning
en liefde,” het Elmaré erken.
Talle
boodskappe aan die paartjie het melding gemaak van hul opregte liefde vir
mekaar en hoe lekker Wilna en Johan vas kon dans.
Johan het
voorheen aan Weslander vertel die Panty Bar het sy naam in 1973 gekry
een aand toe ’n bruidspaar ná hul troue in die kroeg gekuier het.
Johan het
die bruid gevra of hy haar “wittebroodspanty” teen die dak kan hang. En só het
die eerste broekie sy plek in die kroeg gekry. Die versameling het vinnig
gegroei. Teen 1983 was die kroeg vol onderklere en mense het na die Panty Bar
gestroom om dié stoute tentoonstelling te aanskou.
’n
Plaaslike predikant, wat in die 1980’s deur die kroeg na die badkamer gestap
het, het egter by die polisie oor die versameling gekla, en ná ’n uitgerekte
hofsaak is die broekies en bra’s uit die kroeg verwyder.
Die
polisieman wat die saak teen die kroeg aangevoer het, kon nooit weer die bynaam
“ou Panty Basson” afskud nie. In die 1990’s, nadat gemoedere oor die berugte
Panty Bar afgekoel het, het Johan se seun, Giorello Carosini, weer met ’n
panty-versameling in die kroeg begin, en die res is geskiedenis.
Johan en
Wilna laat hul twee seuns, skoondogter en drie kleinkinders agter.





