Robbe baljaar in die Robberg-natuur- reservaat in die Wes-Kaap.

Die publiek word versoek om gedurende die komende somervakansieseisoen versigtig te wees en veiligheidsriglyne te volg wanneer hulle Kaapse pelsrobbe teëkom.

Hoewel hierdie seesoogdiere ‘n integrale deel van ons kus-ekostelsel is, is dit noodsaaklik om te erken dat interaksies tussen mens en wilde diere in die natuur ernstige gevolge kan hê. Onlangs is berigte van aggressie, wat verband hou met positiewe hondsdolheidgevalle, in die Kaap aangemeld.

Robbe kan ook ander siektes dra wat aan mense oorgedra kan word en het skerp tande wat fisieke skade kan veroorsaak. Mense moet kennis neem dat aktiwiteite wat robbe in die algemeen versteur, onwettig is sonder ‘n permit, lui die Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteitswet en Bedreigde of Beskermde Spesies- regulasies.

Dit sluit streel in, aangesien dit die dier se natuurlike gedrag versteur en mense blootstel aan potensiële gevare soos byte, skrape, infeksies en siektes.

Selfs in gevalle waar ‘n robwelpie op ‘n strand aangetref word, moet mense nie met die dier omgaan nie. Kontak eerder die owerhede, wat amptenare, wat opgelei en toegerus is om sulke diere te versorg, sal stuur.

Hoewel dit algemeen is dat robbe op strande uitrek om te rus, is dit belangrik om enige tekens van nood of abnormale gedrag te herken wanneer hulle ‘n rob teëkom.

Robbe kan verdedigende gedrag toon as hulle bedreig voel of beseer is, en kan aggressiewe of gedisoriënteerde gedrag toon as hulle deur hondsdolheid besmet is. Hondsdolheid kan oorgedra word deur byte, skrape of direkte kontak met speeksel en is dodelik.

Die publiek word versoek om weg te bly van robbe en om hulle nie aan te raak of met hulle om te gaan nie.

Swemmers en branderplankryers moet ekstra waaksaam wees terwyl hulle in die see is. As ‘n rob gesien word, gaan onmiddellik terug strand toe en as jy vermoed die rob het hondsdolheid, meld dit by lewensredders of die munisipale owerhede aan.

Ashley Naidoo, die uitvoerende hoof van Cape Nature, sê namate die besige somerseisoen nader kruip, herinner hy almal daaraan dat Kaapse pelsrobbe wilde diere is.

“Selfs goedbedoelde interaksie kan ernstige gevolge vir mense en die diere hê. Ons doen ‘n beroep op die publiek om verantwoordelik op te tree, kontak te vermy en enige abnormale of aggressiewe robgedrag onmiddellik by die owerhede aan te meld:

• As ‘n rob iemand in die water byt of krap, sal die strand onmiddellik deur die aktivering van ‘n haaisirene gesluit word terwyl ‘n haaivlag – indien beskikbaar – gehys sal word.

• Haaiwaarnemers of lewensredders sal CapeNature en die Staatsveearts onmiddellik in kennis stel, wat leiding sal gee oor die nodige optrede.

Munisipale Rampbestuur en toepaslike mariene-strandingsnetwerke sal ook in kennis gestel word.

• Lewensredders of eerste reageerders sal die rob se bewegings monitor en dophou.

• Die strand sal eers heropen nadat die rob veilig verwyder is of die gebied verlaat het.

• Enigiemand wat deur ‘n vermeende hondsdol rob gebyt, gekrap of gelek word, moet dringend mediese sorg by die naaste hospitaal kry. Die wond moet op die toneel vir 10-15 minute deeglik met seep en water gewas word. Die pasiënt moet dan na die naaste hospitaal geneem word om profilaktiese behandeling teen hondsdolheid te ontvang. Die pasiënt moet die hospitaalpersoneel inlig dat dit die byt/krap/lek van ‘n vermeende honsdol-rob is.

• ’n Video van die rob se gedrag moet indien moontlik geneem word en na CapeNature by 083 236 2924 gestuur word, insluitend die ligging. Dit sal op die toepaslike strandnetwerk geplaas word vir beplande reaksie.

As jou troeteldier deur ‘n rob gebyt of gekrap is, raadpleeg die plaaslike staatsveearts. Verskaf besonderhede oor die voorval, insluitend wondsoort, behandeling ontvang en inentingsgeskiedenis. Volg dieselfde wondskoonmaakprotokol vir troeteldiere as vir mense.

Maak seker dat jou troeteldiere teen hondsdolheid ingeënt is, aangesien dit die enigste manier is om hulle teen hierdie dodelike siekte te beskerm. Dit is ‘n wetlike vereiste dat alle honde en katte in Suid-Afrika teen hondsdolheid ingeënt word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article