Outisme-bewusmakingsmaand is ’n gulde geleentheid om meer te leer oor outisme en die uniekheid van ander te omhels.
Nadia Dreyer, ’n ouer van ’n sesjarige dogter wat op die outisme-spektrum is en aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS) het, deel graag haar ervaring met Weslander.
Volgens Nadia is haar dogtertjie, Mariska, prematuur gebore en het die risiko geloop vir outisme of AGHS. In haar geval was dit die kombinasie van albei.
“Ons het al van dag een af geweet waarvoor om uit te kyk. Een van die eerste tekens wat ons agtergekom het, was meer emosionele ineenstortings en die tweede een was moeilikheid met spraak,” vertel Nadia.
AGHS is op die ouderdom van drie by Mariska gediagnoseer en outisme op die ouderdom van ses. “Om eerlik te wees – ek was half verlig, hartseer, oorweldig . . . alles in een. Eerstens verlig omdat ek gesukkel het om antwoorde uit dokters te kry. Dit was omtrent ’n tuimeltrein van emosies.”
Nadia sê dit is baie moeilik vir die samelewing om ’n kind met hierdie diagnose te verstaan en die nodige ondersteuning te kry. Sy is dankbaar vir haar man wat haar te alle tye bystaan en ’n vriendin wat self AGHS het en haar kennis deel. Mariska kry ook hulp van ’n spraak- en arbeidsterapeut. Nadia sê kinders met outisme kan baie vinnig deur klein dingetjies oorstimuleer word.
“Of dit nou harde klanke of hare was is, van enigiets kan sy moontlik ’n ineenstorting hê.” Een van die uitdagings waarmee Nadia daagliks sukkel, is die kyke in die publiek en hoe Mariska in die openbaar optree.
“Ek weet sy kan nie altyd help hoe sy optree nie, maar mense dink nie noodwendig daaraan nie. Ons word outomaties aangekyk as ouers wat nie hul kind kan dissiplineer nie.”
Te midde van die uitdagings wat Nadia-hulle as ouers in die gesig staar, oorskry positiwiteit, liefde en hoogtepunte dit alles. “Die lekkerste ding van ma-wees vir Mariska is dat sy my altyd ’n storie vertel. Sy lewe in haar eie wêreld; ons gesels saam en sy voel gemaklik. Sy is die lig in ’n donker situasie.”





