April is Outisme-bewusmakingsmaand, en danksy meer inligting is ouers, onderwysers en gemeenskappe meer bewus van dié toestand.
Outisme is ’n lewenslange ontwikkelingsgestremdheid, verduidelik Outisme Wes-Kaap. Dit beïnvloed die manier waarop mense die wêreld sien en reageer op stimuli in hul omgewing, soos klank, lig, aanraking, ruimte, reuk en smaak.
Outisme staan ??ook bekend as ’n sosialekommunikasieversteuring en affekteer vier groot gebiede van ontwikkeling, sê die organisasie.
Volgens Lescha Louw, wat by ’n plaaslike kleuterskool werk, is gebrek aan inligting een van die grootste struikelblokke vir Weskus-ouers wanneer dit by outisme kom.
“In sommige gevalle kan dit tot mishandeling van kinders lei omdat die ouers só gefrustreerd is. Hulle kan nie met die kinders kommunikeer nie of dink eenvoudig die kinders is stout, dus is baie meer bewusmaking nodig,” verduidelik Louw.
Sy verduidelik sy het gespesialiseerde opleiding, maar op grondvlak soos kleuterskool is daar steeds ’n gebrek aan opleiding oor outisme.
“Ouers weet nie wat om met hul kinders te doen nie en kleuterskole dalk ook nie. Kartis (Spesiale Skool) is die enigste plaaslike skool wat kinders akkommodeer en kinders moet ses jaar of ouer wees. Dié skool het ’n waglys en sommige mense probeer by Siyabonga regkom, maar hulle het ander fokusse.
“Dit is so moeilik, want ons as opvoerders het nie gespesialiseerde plekke waarheen ons ouers kan verwys nie. Mense begin nou eers hoor van outisme en het dalk ’n idee van wat dit behels, maar meer bewusmaking moet gewis gedoen word,” meen sy.
Organisasies soos Outisme Wes-Kaap probeer dus ook om te help met diagnose. Die organisasie bied berading en ondersteuning vir individue en gesinne, bied opleiding en werksessies en probeer ’n stem wees vir kinders en grootmense met outisme.
Louw sê dit is juis hierdie soort praktiese ondersteuning wat plaaslik kort. Sy meen speelgroepies, ondersteuningsgroepe vir gesinne en bewusmakingsessies sal baie help.





