Kos was nog altyd ’n noodsaaklikheid vir die mensdom – brandstof om ons aan die gang te hou.

Maar die afgelope paar dekades het kos ’n uiters groot “fad” geraak. Talle kos- en wynliefhebbers hou hul lyf nou Jamie Oliver of Nigella Lawson.

Waar ’n mens kom, word nuwe resepte en kosstyle uitgeruil en in die fynste besonderhede bespreek.

En ja, kook is ’n lekker ding, of jy nou voor die kospotte in die kombuis staan, voor die braaivleisvuur, of om ’n klein gasstofie op kamp – om rou bestanddele in iets heerliks om te skep, is nou maar net ’n lekkerte.

Ek vind net te dikwels dat met die kospraatjies om kospotte is backseat-sjefs net TE – te kreatief; te slim.

Soms as ek na al die praatjies luister, verloor ek sommer heeltemal my aptyt.

Maar kosmaak het wel baie verskynsels rondom dit.

Daar is tye wanneer jy, pligsgewys, móét kook; ook tye wanneer jy teen wil en dank wíl kook.

Soos op ’n gure wintersdag – ’n tyd van die jaar waarna ek baie uitsien om tyd om die kospotte deur te bring.

Dis dan wanneer jy smag na trooskos, troetelkos, koolstoof- of wag-’n-bietjie-kos; wanneer jy kook net om sielsvrede te kry.

Eers later, wanneer alles berei is, dink jy aan dié mense wat jou tafel met jou sal wil deel, wat weet wanneer kos met liefde aanmekaar­gesit is.

Met sulke gedagtes dink die meeste van ons dan met heimwee terug na ons ma’s se kos.

Ek self sien nog in my geestesoog my ma wat in haar geliefde Victoriastraat-kombuis staan waar sy sopas ’n brood klaar geknie het. Sy draai die bak dan toe in ’n warm kombers en plaas dit sagkens neer op ’n warm rusplek vir sy eerste rys.

Op die stoof in ’n diep soppot smoor mooi stukke beesskenkels stadig saam met uie, knoffel, preie en seldery en ’n handvol kruie – roosmaryn en basiliekruid; kerwel en sprietuie; bossies tiemie – uit die tuin, met ’n rissie, fyntjies gekap, en hope gekapte tamaties, en vir nog souserigheid, ’n glas KWV Roodeberg.

My seun, toe ’n snotkop-skaars-tiener, sit by die ou geelhouttafel in die plaaskombuis en ouma en kleinseun gesels. Hy kyk aandagtig stap vir stap wat sy doen.

Sy seil byna soos ’n ballerina van een kant na die ander van die groot kombuis en gryp hier en daar, dan sny sy weer by die kapbord of spoel iets in die wasbak uit.

Kleinseun vra nie veel vrae in nie – kyk net, en sy vertel lang stories.

Sy vertel van ’n maaltyd wat sy saam met my pa in ’n armmansbuurt van Rome geëet het toe hulle as arm, jong joernaliste in Europa gewerk het, boonop met ’n jong kroos. Dit was ’n tyd toe elke pennie getel moes word.

Daar sit hulle saam aan tafel met vreemdelinge wat almal ook hul sente tel, maar steeds ’n goeie maaltyd wil geniet. Hulle drink goedkoop chianti, wat waarskynlik met water verdun is, maar in hierdie klein rookgevulde taverne met stokou gevlekte rooi-en-wit geruite tafeldoeke oor wankelrige planktafeltjies gedrapeer, smaak dit soos die beste engeltjiepiepie wat daar kan wees.

’n Italiaanse witgryskop Nonna geklee in swart kerf en roer en sit die lekkerste, maar eenvoudigste maaltyd voor – sekerlik gemaak van die goedkoopste snit vleis, maar verfraai met die varsste bestanddele asook die perfekte pasmaats van speserye, en net die regte hoeveelheid sout en peper.

Als word eenvoudig vir elke kliënt in ’n sopbrood met ’n kraakvars stuk brood uit ’n warm houtbrandende oond voorgesit.

My ma het baie stories oor kos, ’n leeftyd van ervarings en herinnerings, want sy het immers die wêreld vol agter haar neus aan gereis.

Sy het byvoorbeeld geweet van soesji en tofu, tacos en tortilla, arancini en gazpacho – dekades voordat dié lekkernye Suid-Afrika se borde getref het.

My seun wil nog weet en sy vertel nog. Die kombuis ruik heerlik – warm, vol van ouma se kos en haar hart wat dit voorberei.

Maar my ma se gunstelingstories was juis soos hierbo genoem – die eenvoud van heerlike maaltye wat soms dikwels misgekyk word en deur die giere van die hede oorskadu word.

En so stem ek ook saam. Vanweë geleenthede het ek ook al deur my leeftyd aan vele pronkerige tafels gesmul.

Maar as iemand my moet vra oor wat my heel gunstelingmaaltyd was, dan sal ek vinnig antwoord – ’n sonsondergangbraai op die Dwaalberg tussen Carnarvon en Vanwyksvlei, wat bestaan het uit ’n vinnige vuurtjie gemaak van droë driedoringbostakke; net ’n stukkie skaap-plaaswors afgesluk met ’n yskoue glasie chenin blanc.

Dan, enigiets wat my ma vir ons voorberei het, uit haar hartskombuis. . My ma se kleinseun het toe grootgeword en is vandag die wafferse hoofsjef by ’n luukse restaurant in die Kaap. Wanneer hy en sy ewe fynproewer suster besluit om huis toe te kom, vra hulle dat hul ma vir hulle hul gunsteling-soet-suur-hoenderporsies braai – saam met braaibroodjies en aartappelslaai.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article