Hopefield-ouers van leerders wat by die Hoërskool Weston in Vredenburg skoolgaan en in die skool se koshuis tuisgaan, voel hul griewe val op dowe ore.
Ná heelwat kommunikasie met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) en die skool is ouers steeds nie tevrede nie. Weslander het in Mei berig (“Weston-koshuis wek kommer”, Donderdag 9 Mei 2024) oor ouers se bekommernisse oor hul kinders se welstand, veiligheid en die toestand van die gebou.
Ouers het dit eers oorweeg om hul kinders nie skool toe te stuur nie, maar het daarteen besluit aangesien die leerders agter kon raak met hul skoolwerk.
By ’n ouervergadering wat Maandag (8 Julie) gehou is, is besluit om geen koshuisverblyfgeld te betaal nie. Volgens Julinda Scheepers, wat in die koshuiskomitee dien en ook ’n kind in die koshuis het, bly vervoer vir leerders die grootste probleem. Scheepers het weer melding gemaak daarvan dat vervoer vir in ander dorpe in die Weskus gesubsidieer word, maar nie vir Hopefield-leerders van Weston nie. Volgens Scheepers verkies ouers dat hul kinders eerder elke dag huis toe kom as om in die koshuis te bly.
“Ons het vir die eerste keer by ’n vergadering gehoor dat daar ’n keuse was tussen ’n verblyf-subsidie en ’n vervoer-subsidie, maar dit is nie met ons gekommunikeer nie,” vertel sy. Dié inligting is vir hulle deurgegee deur middel van ’n persverklaring van die Departement van Basiese Onderwys.
Op ’n navraag aan die WKOD oor die kwessie, het Millicent Merton, die departementele woordvoerder, gereageer: “Leerders wat in Hopefield woon, word by die Hoërskool Weston se koshuis gehuisves en kwalifiseer nie vir ’n vervoersubsidie nie.”
Merton meen die skool en die distrik het ouers se bekommernisse erken en die skool is besig met geringe herstelwerk. Ouers beplan egter om volgende week op te ruk na die skool sodat hul griewe ernstig opgeneem kan word.





