Die oudhoof van Hoërskool Vredenburg, Derek von Zeuner (64), is op 14 Januarie oorlede.


“Die grootste man met die kleinste hartjie.”

Só beskryf oudleerders die voormalige skoolhoof, Derek von Zeuner, wat verlede week gesterf het.

Von Zeuner (64) is Dinsdag 14 Januarie, op sy verjaardag, ná ’n beroerte oorlede.

Hy het verlede April, ná 22 jaar as hoof van Hoërskool Vredenburg (HSV), die tuig neergelê. Ná meer as twee dekades by die skool was daar vele Weskussers wat in Von Zeuner se jare by Hoërskool Vredenburg op die skoolbanke was.

Benewens sy rol as hoof en onderwyser het Von Zeuner ook rugby afgerig.

Volgens een van die oudleerders was Von Zeuner ’n regverdige mens en het hy daarna gestreef om sosiale samehorigheid te bevorder.

Von Zeuner was ook ’n oud-Dee-Effer en het tussen 1983 en 1997 geskiedenis by sy alma mater aangebied. Volgens van die oudleerders wat op die Hoërskool D.F. Malan se alumni-groep is, was Von Zeuner se geskiedenisklas “waarlik ’n belewenis” en baie onthou hom nog in sy Volla ry.

Hy was ook by krieket en rugby van dié skool betrokke.

“Rus in vrede, Mnr. Von Zeuner, jy het my mins-gunstelingvak, geskiedenis, in 1983 ’n plesier gemaak. Innige simpatie aan sy geliefdes,” het een van sy oudleerders gesê.

“Sal nooit vergeet toe hy my kom haal vir my prakties in houtwerk in matriek wat ek gemis het toe ek by die Bellville-swembad gebank het nie,” het ’n ander onthou.

By HSV het Von Zeuner ook die o.19C-rugbyspan afgerig – sy trots.

’n Diens vir Von Zeuner is Saterdag 18 Januarie in die Vredenburg NG Moederkerk gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article