Fishing for Jesus-ECD-leerders saam met Gloria Barends (administratiewe beampte), Jo-Mique Phiri (onderwysstudent) en Virginia Vraagom (skoolhoof). Awesig: Amor Petersen (assistent).


Virginia Vraagom se plan om ’n vroeëkinderontwikkelingsentrum te stig, het ná 41 jaar by Steenberg Cove Primêre skool as onderwyser en hoof vir 10 jaar, uiteindelik waar geword.

Die Fishing for Jesus-ECD het sy deure in Januarie in Laingville, St. Helenabaai, geopen. Vraagom sê die sentrum is ter herinnering aan haar broer en sy vrou, wat verlede jaar aan Covid-19 oorlede is.

“My vennoot, Gerry O’Donoghue, is ook weens Covid-19 dood en sy vrou, Debbie du Plessis, het van die begin af ingekoop in my droom en gaan uit haar pad om deur mildelike skenkings waarde tot onderwys toe te voeg.”

Vraagom sê sy sal eers onderwys los die dag wanneer Jesus haar kom haal. “Onderwys is my roeping en ek sal help om ’n verskil in kinders se lewe te maak solank as wat ek leef.”

Die sentrum het tans 16 leerders en neem slegs kinders tussen die ouderdom van drie tot vyf in.

Vraagom sê vroeëkinderontwikkeling vervul ’n belangrike rol in die vaslegging van vaardighede en vermoëns in kinders se lewe. “Kinders wat van ’n vroeë ouderdom af goeie stimulering ontvang, het dikwels ’n voorsprong en vaar later beter. Dit verbeter nie net kognitiewe vermoëns nie, maar het ook ’n groot invloed op emosionele en sosiale ontwikkeling.

“Fishing for Jesus-ECD is geskoei op geestelike waardes en standaarde en ons sal dit sover moontlik uitleef.”

Vraagom is opgewonde oor wat dalk alles in die toekoms voorlê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article