Ná ’n jare lange gesukkel om die regmatige eienaars van hul huise te word, kan twee huisgesinne in Louwville nou sê hul wonings is hul eie.
Transnet het destyds behuising vir talle van sy werkers gebied met die opsie om uiteindelik die eienaar van dié eiendomme te word.
Vir die Fielies-gesin in Pleinstraat is jare se gesloer uiteindelik verby en hulle het die dokumente om te bewys hul woning is hul eie.
Dit geld ook Christina Talmakkies van Gousblomstraat.
“Ons het nou gemoedsrus. My ma het nie lank genoeg geleef om hierdie dag te sien nie, maar ek weet dit sou vir haar ook ’n blye dag gewees het. Ná al die gesukkel het ons die amptelike dokumente,” sê Sonja Hanekom.
Haar pa, Arnoldus, was die familielid wat voorheen vir Transnet gewerk het.
Die inwoners het jaar ná jaar vir hul huise betaal totdat hulle in 2015 gesê is die eiendom is destyds aan die bank oorgegee en dit is nie meer in die besit van die maatskappy nie.
In ’n poging om die huisie op hul name te kry, het iemand aan Hanekom voorgestel sy moet met raadsheer Sucilla van Tura gesels.
Van Tura se portefeulje was in ’n stadium behuising by die Saldanhabaai-munisipaliteit.
Sy het toe die gesinne gehelp om aansoek te doen vir staatshulp om die laaste uitstaande geld, sowat R30 000, af te betaal.
Danksy ’n staatsubsidie kon beide die Fielies- en Talmakkies-gesinne hul wonings afbetaal, maar hulle het nooit die nodige dokumente van die betrokke prokureurs af ontvang nie.
Die gesinne het nou uiteindelik met Van Tura se hulp die amptelike dokumente ontvang en die titelaktes is nou in hul besit.





