‘n Bekende oud-raadslid van die Saldanhabaai-munisipaliteit, André Kruger, het vroeër die week (9 Februarie) sy langverwagte lewensverhaal in boekvorm bekendgestel op ‘n byeenkoms by die seiljagklub in Langebaan.
Kruger is bekend as oud-soldaat en vir sy betrokkenheid by plaaslike regering, toerisme en sy passie en liefde vir die omgewing.
Die geleentheid is bygewoon deur onder meer Charmaine Laubscher, die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) se waarnemende burgemeester; Boffie Strydom, die Weskus-distriksmunisipaliteit se burgemeester; prof. Abel Esterhuyse van die Militêre Akademie; lt.kol. Louis Bester van die 4 Verkenningsregiment; verteenwoordigers van plaaslike gemeenskapsorganisasies; munisipale bestuurders; militêre veterane; plaaslike sakelui en verskeie inwoners.
Kruger se boek, met die gepaste titel True North – Looking Back @ Going Forward, beskryf sy professionele loopbaan van 35 jaar in die Suid-Afrikaanse Leër, waar hy tot die rang van generaal-majoor gevorder het, voordat hy die destydse internasionale wapenbedryf as bemarker betree het.
In die Weskus- en SBM-gebied, waar hy en sy vrou, Magdel, hulle later in Langebaan gevestig het, was hy vir etlike jare aktief betrokke as onder meer raadslid by die plaaslike regering, terwyl hy ook sy uitgebreide bestuurskennis en ervaring by bewa- ringsorganisasies soos die Saldanha- baai-waterkwaliteittrust en die Weskus Nasionale Park se ereveldwagters aangewend het.
Kruger se boek, wat deur Naledi Uitgewers gedruk is, is propvol waardevolle lewenslesse en interessante ervarings.
“True North” verwys na ‘n mens se innerlike kompas, egte identiteit en die kernwaardes wat rigting gee aan jou lewe.
Die 79-jarige Kruger vertel sy lywige, maar interessante en hoogs leesbare lewensverhaal in vier fases: Die tydperk 1947 tot 1964, wat onder meer handel oor sy skooljare by Pretoria Boys High en fokus op sy persoonlike soeke na selfidentiteit.
Fase twee (1965–1985) handel oor Kruger se militêre loopbaan en sy bevordering en opgang as senior offisier in die destydse Suid-Afrikaanse Weermag, asook sy betrokkenheid by onder meer militêre operasies wat tydens die destydse Grensoorlog plaasgevind het.
In fase drie van True North vertel Kruger onder meer van sy noue betrokkenheid by die destydse transformasieproses in die SA Weermag ná die einde van die land se apartheidsjare. ‘n Besluit om met vroeë pensioen te gaan, het hom in kontak gebring met die land se wapenbedryf, waar hy ‘n pos as internasionale bemarker by Kentron in Irene, Centurion, aanvaar het. Dié laaste fase van sy boek beskryf ook die Kruger-familie se besluit om hulle in Langebaan te vestig, ‘n suksesvolle gastehuis te bedryf en André se betrokkenheid by plaaslike toerisme, die Langebaan-seiljagklub, die Weskus Nasionale Park en plaaslike natuurbewaring.
In 2009-’10 betree Kruger die wêreld van politiek en kort daarna wen hy ‘n wyksetel vir die DA in die plaaslike verkiesing in Mei 2011.
In die boek skryf Kruger dat sy elf jaar in die politiek hom vele lesse geleer het. Met die munisipale verkiesing wat later vanjaar wink, het Kruger goeie en waarskynlik wyse raad vir politici en politieke partye wat mekaar reeds ywerig die stryd aansê:
“Dienslewering aan jou gemeenskap is die hoofdoel van politieke verteenwoordigers. Vergeet van ego’s, posisies en mag. Bemagtig jouself met mensekennis, geduld, integriteit en eerlikheid. Moet nooit beloftes maak wat jy nie kan nakom nie en ontbloot korrupte politici en regeringsamptenare wat dienslewering negatief beïnvloed,” skryf Kruger in sy boek.
En teen die einde van True North vra hy dan die vraag: Is daar ‘n ware noord (true north) vir die land as ‘n nasie?
Sy eie antwoord is ‘n opsomming van sy eie verhaal en lewensbenadering – een wat soos ‘n goue draad deur dié skrywe loop.
“Dit is moontlik as elke landsburger sy eie morele innerlike kompas vind. Ons is gelukkig om in ‘n pragtige land te woon en is geseënd met ‘n unieke natuurlike omgewing en diverse mense. Dit is in ons hande om positief te wees oor ons toekoms en bydraes te lewer waar jy is. Neem verantwoordelikheid en maak ‘n verskil.”
Belangstellendes wat True North wil koop, kan Kruger by 073 664 0506 of die uitgewers by 078 648 8616 skakel.







