’n Voormalige polisieman van Vredenburg, wat daarvan aangekla word dat hy verlede jaar ’n polisiekonstabel en twee pasiënte by die New Somerset-hospitaal doodgeskiet het, is na die Valkenberg- psigiatriese hospitaal vir psigiatriese evaluasie verwys.
Jean-Paul Malgas (40), oorspronklik van Vredenburg, is op 7 Mei verlede jaar in Groenpunt, Kaapstad, in hegtenis geneem ná ’n reeks gewelddadige voorvalle wat in die dood van drie mense by die New Somerset-hospitaal geëindig het.
Hy staan tereg op drie aanklagte van moord, een van die besit van ’n gevaarlike wapen, twee van poging tot roof van ’n dienspistool en een van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.
Volgens Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het Malgas Vrydag 12 Mei vir ’n voorverhoorkonferensie in die Kaapse hooggeregshof verskyn.
Ntabazalila het verduidelik Malgas se regsverteenwoordigers het regtens artikel 77, artikel 68 en artikel 79 van die Strafproseswet aansoek gedoen dat die beskuldigde na Valkenberg verwys word. Die hof het dit toegestaan.
Malgas het van 19 September 2003 tot 7 November 2006 by die Vredenburg-polisiekantoor gewerk, waarna hy, volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, oneervol uit die polisiediens ontslaan is.
Hy het ’n “stewige misdaadrekord en ’n geskiedenis van geweld wat tot 2003 terugstrek,” het Helfrich gesê.
Hy is in 2003 in Graaff-Reinet aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer, waarop hy onskuldig bevind is.
In April 2006 is hy van handel in dwelms aangekla en in Mei 2006 vir die onwettige besit van ammunisie. Albei sake is teruggetrek.
In 2008 is hy in Atlantis vir die besit van vervalste note skuldig bevind.
In 2011 is hy skuldig bevind aan diefstal nadat hy ongeveer R5 000 se treinspoor-ystersirkels van Transnet in Koperfontein gesteel het.
In 2021 het Malgas glo ’n polisiebeampte in die Vredenburg-polisiekantoor aangerand. Ook dié saak teen hom is teruggetrek.
Bloedspoor van geweld
Malgas is op 5 Mei na die Hopefield-polisiekantoor om ’n vermiste kind aan te meld. Die polisiebeamptes het gesien hy het ’n mes by hom, wat hy nie wou afstaan nie. Sers. Christiaan Jacobus le Fleur is met die mes gesteek, waarop konst. Jamie-Lee Papier waarskuwingskote afgevuur en Malgas in die maag getref het.
Malgas is na die Vredenburg- provinsiale hospitaal geneem waar hy volgens Netwerk24 probeer het om sers. Richard Denzell Bester se dienspistool af te neem. Hy is op 6 Mei na die New Somerset-hospitaal oorgeplaas, waar hy glo weer probeer het om Bester se dienspistool af te vat.
Luidens ’n hospitaalverslag, wat Netwerk24 onder oë gehad het, is Malgas omstreeks 14:00 “uit aanhouding vrygelaat” en sy boeie afgehaal. Hy is die volgende dag ontslaan en het die hospitaal omstreeks 10:30 verlaat.
Hy was egter kort ná 18:30 terug na die saal, waar hy ’n gloeilamp gebreek en teen sy maagwond gehou het.
’n Verpleegster het die lawaai gehoor en Donay Phillips, ’n polisieman wat ’n ander pasiënt in die aangrensende saal bewaak het, om hulp gevra. Hy het gaan kyk en hulle het handgemeen geraak. In die stoeiery is sy dienspistool afgevat en hy is in die kop geskiet. Skote is in die rigting van verpleegpersoneel in die gang geskiet. Lionel Eckleton en Geret Carolus, pasiënte in ’n ander saal, is met Phillips se dienspistool doodgeskiet. Suster Diane Seale het die gewapende man gekalmeer, waarna hy in hegtenis geneem is. Phillips is die volgende dag dood.
Volgens Ntabazalila gaan Malgas vir 30 dae in Valkenberg geëvalueer word, waarna hy weer in die hof sal verskyn.





