Marius Wilbert Cleophas, nuwe adjunkhoof van Diazville Primêr. Foto:


Dit is ’n besondere prestasie dat ’n voormalige leerder van Diazville Primêr vir die eerste keer in dié skool se bestaan van 54 jaar die posisie van adjunkhoof bereik het.

Marius Wilbert Cleophas staan dié rol sedert die begin van Maart vol – en dit by dié skool waar hy sy skoolloopbaan as sewejarige begin het.

Vir Cleophas is dit nie net ’n persoonlike mylpaal nie, maar ook ’n inspirasie vir elke leerder, ouer en opvoeder in die Diazville-gemeenskap.

Cleophas se liefde vir onderwys het uit sy passie vir sport – veral sokker – ontwikkel. Hy was ’n uitstaande sokkerspeler wat Boland-, Wes-Kaapse kleure én Suid-Afrikaanse skolekleure verwerf het. Hy het semi-professioneel vir Santossokkerklub se o.19- en reserwespan (Mitchells Plain United) in Kaapstad gespeel.

Op ’n kruispad moes hy kies tussen ’n professionele sokkerloopbaan en ’n akademiese toekoms.

Cleophas het die onderwyspad gekies – ’n besluit wat sy lewe en dié van soveel jongmense beïnvloed het.

In 2008 het hy as vrywillige werker by Diazville Primêr vir die departement van kultuursake en sport begin. In 2012 het Andries Hector, die destydse skoolhoof en Cleophas se voormalige onderwyser, hom aangemoedig om verdere studies in onderwys te volg.

“Hierdie aanmoediging het gelei tot my inskrywing by die Noordwes-universiteit in 2013, waar ek in 2017 my eerste onderwyskwalifikasie in intermediêre en senior fase onderwys voltooi het, met Afrikaans huistaal as hoofvak. In 2023 het ek my tweede onderwyskwalifikasie voltooi, waar ek in lewensvaardighede gespesialiseer het.”

Cleophas het met harde werk en toewyding vele mylpale bereik.

As adjunkhoof fokus hy op die skool se groei en vooruitgang.

“Ek wil die skool, in samewerking met die hoof, na nuwe hoogtes lei deur veral klem te lê op die vierde nywerheidsrevolusie en die uitbreiding van digitale vaardighede. Ek glo daarin om die skool holisties te ontwikkel sodat meer leerders bo hul omstandighede kan uitstyg.”

Een van sy langtermyndoelwitte is om ’n splinternuwe skoolgebou vir die gemeenskap te help bewerkstellig.

Volgens Lee-Ann Davids-Hartzenberg, die skoolhoof, is Cleophas nie net ’n uitstaande opvoeder nie, maar ook ’n ware kind van die gemeenskap.

“Sy verbintenis tot die skool en sy liefde vir ons leerders maak hom die ideale mens vir hierdie belangrike rol. Ons wens hom alle sukses toe in sy nuwe pos en glo dat hy ’n positiewe bydrae tot ons skool se toekoms sal lewer. Mag sy visie, harde werk en toewyding ons skool na nog groter hoogtes neem,” sê Davids-Hartzenberg.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article