Sy gesin en familie, sy gemeenskap en syfers was die dryfvere in wyle Donovan Smith (61) se lewe.
Die oud-adjunkhoof van Laaiplek is Vrydag (15 Desember) oorlede ná ’n fratsongeluk by sy woning waar hy houtwerk gedoen het.
Smith, bekend vir sy statige en presiese manier van doen, was 33 jaar in die onderwys. “Hy was maar bekend as ’n streng onderwyser, maar tot vandag toe het sy voormalige leerders baie lof en respek vir hom. In Desember 2017 tree hy finaal uit die onderwys,” vertel sy seun, Douglas.
Smith se liefde vir syfers het aanvanklik beteken dat hy by Boland-bank in Paarl gewerk het, maar twee jaar later, in 1986, het hy sy onderwysloopbaan by die Hoërskool Diazville begin. Hier het hy sy liefde vir syfers voortgesit en het ekonomiese en bestuurswetenskap en rekeningkunde aangebied. By dié Saldanha-skool is hy tot departementshoof bevorder en later, by Noordhoek Primêr, was hy adjunkhoof en het ook ’n jaar lank as hoof ingestaan.
Ten spyte van die Velddriwwer se statige manier van doen, was hy ’n stoere gesins- en gemeenskapsmens.
“By die huis was hy ’n streng pa en ouboeta, maar terselfdertyd ook ’n mense-mens. Dit is hoe ons hom sal onthou. Indien daar iets op sy hart was, het hy dit op sy manier gesê en jy het presies geweet waar jy met hom staan. Hy het baie tyd vir sy familie en vriende gehad en was ook lief om hulle naweke te ontvang en te onthaal,” vertel Douglas.
“Hy was ook baie lief vir sy musiek en het gereeld naweke vir ons vermaak met al die hits uit sy tyd,” sê sy dogter, Fasti.
Die Smith-gesin het ook gereeld saam gereis en tot in Namibië gaan draai.
In sy gemeenskap was hy ook ’n voorvatter en het jaarliks ’n pa-en-seun-kamp vir sy broers, vriende en hul seuns tydens die Desember-vakansie gereël. Dit was ook ’n hoogtepunt vir Smith toe hy in 2019 en weer vanjaar oupa geword het.
“Hy was ’n baie trotse oupa en was ontsettend lief vir hulle en het hulle baie bederf,” sê sy gesin.
Ná aftrede het Smith nie agteroor gaan sit en rus nie. Hy het ’n jaar lank as kerkvoog gedien by sy grootword-kerk, die St. Christopher Anglikaanse kerk.
In die kombuis het Smith se talente ook na vore gekom en sy rollmops was so gewild dat mense van oor die Weskus heen bestellings by hom geplaas het. Douglas sê die gesin sal nou hul bes probeer om hul pa se geheime resep na te maak sodat die rollmops kan voortleef.
Met heelwat vrye tyd het Smith ook begin om sy hande besig te hou deur houtwerk te doen. Hy was daagliks besig met sy handewerk en het sy vrou, Suzette, en Fasti met ’n vertoonkas verras. “Ons sal al die mooi herinneringe koester en hom altyd onthou as die sterk leiersfiguur in sy gesin, familie en gemeenskap. Ons het altyd aan sy lippe gehang as hy oor sy kinderjare in Laaiplek en studentedae in die Boland en Kaapstad vertel het en sal dit verskriklik mis,” vertel Douglas.
Fasti sê van haar pa: “As ouboeta was hy ’n anker en steunpilaar vir sy moeder, broers en susters. Hy het daarna gestreef om ’n goeie voorbeeld te stel. Hulle het almal opgekyk na hom en was trots op dit wat hy in sy lewe en loopbaan bereik het.”
Smith laat sy vrou, seun, dogters, twee kleinkinders, ma, twee broers en twee susters agter.
. Begrafnisreëlings is op bl. 17





