Ongeveer 120 mense het voorverlede Saterdag (28 Februarie) byeengekom om ou Sandveld-tradisies op die Wolfblei-plaas te vier.
Die byeenkoms is aangebied deur Gerda Pedro, wat ‘n groot passie vir die geskiedenis en tradisies van die streek het. Die dag het begin met ‘n ontbyt, gevolg deur ‘n trekker- en wa-rit oor die plaas sodat almal die terrein kon verken. Baie van die gaste is familie en vriende wie se voorouers op die plaas gebly en daar getrou het.
Verskeie aktiwiteite het die dag kleurvol gemaak, insluitend langbeensit, stories van die plaas se verlede, molysterstel vir molvang, en die geleentheid om kettie te skiet. Gaste het plaaswater geproe, ou resepte gedeel, gemmerbier geniet, en saam gesing en gedans. Ou klere van die vorige dekades is aangetrek en kinders het die geleentheid gehad om in rolle te speel.
Volgens Pedro was die doel van die dag om die jonger generasie terug te neem na hul geskiedenis sodat die tradisies en stories van die plaas voortgedra kan word.





