“Pasop! OTM-diewe raak al hoe slimmer!”

Dít is kapt. Tania Helfrich, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, se waarskuwing aan almal wat gereeld transaksies by outomatiese tellermasjiene (OTM’s) aan die Weskus doen.

“Hoewel die meeste mense weet hulle moet paraat wees en nie vreemdelinge toelaat om hulle by ’n OTM te help nie, weet almal nie noodwendig hoe uitgeslape sommige van hierdie skelms is en hoe vinnig hulle jou bankrekening kan leeg trek nie,” sê sy.

Een so ’n voorbeeld het op 27 Mei plaasgevind toe ’n man (43) om 07:00 ’n Standard Bank-OTM in Vredenburg gebruik het.

Terwyl hy besig was met sy transaksie het hy dadelik ongemaklik gevoel in die teenwoordigheid van die twee vreemdelinge wat langs hom by die OTM kom staan het.

Volgens Helfrich het hy vinnig die transaksie gekanselleer en weggestap. Die skelms het egter reeds gekry wat hulle nodig gehad het om die slagoffer se geld te steel. Hy het eers later ontdek ’n bedrag van R4 790 is uit sy bankrekening onttrek – kort nadat hy by die OTM was.

Die ondersoek het aan die lig gebring dat die verdagtes met ’n silwer Volkswagen Polo met die registrasienommer CA976524 van die misdaadtoneel af weggery het.

Dinsdag 31 Mei het ’n kringtelevisiekamera die betrokke voertuig in Villiersdorp opgemerk.

Helfrich sê Standard Bank se gespesialiseerde ondersoekspan het die polisie in kennis gestel waar die verdagtes is en hulle is kort daarna deur die polisie in hegtenis geneem.

Albei verdagtes, onderskeidelik 42 en 30 jaar oud, het ’n uitgebreide misdaadrekord wat verband hou met ander sake wat deur die polisie se georganiseerde misdaad-afdeling hanteer word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article