Om ‘n orreluitvoering van Julian Melck op die eeu oue pyporrel in die NG kerk Hopefield by te woon, is ‘n ervaring wat die siel verfris – soos ‘n skeppie gesoute karamel-roomys op ‘n warm dag.
Melck bied tydens die Hopefield-Fynbosskou (28 tot 31 Augustus) daagliks ‘n uitvoering om 12:00 op die indrukwekkende Foster & Andrews-orrel, ‘n instrument met ‘n ryk geskiedenis, aan.
Die NG gemeente is reeds in 1852 gestig. In 1909 is besluit om die ou kerkgebou te vergroot en die kleiner pyporrel te vervang. ‘n Nuwe Foster & Andrews-orrel is uit Engeland ingevoer en op 20 Desember 1911 ingewy.
Die orrel is oorspronklik toegerus met ‘n handpompmeganisme wat wind aan die pype en blaasbalke verskaf het. Dit is later met ‘n elektriese pomp vervang, maar die ou handpomp kan steeds aan die regterkant van die instrument gesien word.
Die ivoor- meganiese registers – of drawstops – is sorgvuldig gegraveer en maak dit moontlik vir die orrelis om verskillende klankkleure uit die instrument te haal.
Toegang tot die uitvoerings is gratis.





