Ek het Maandag ’n pakkie vir oornag-aflewering by PostLink in Saldanha na Richardsbaai ingebring.

Ek het spesifiek gevra of hulle dit oornag kan koerier, want die pakkie het koeksisters bevat wat by ’n kliënt moes uitkom. Toe die pakkie Woensdag nog nie by die kliënt uitgekom het nie, is ek terug na PostLink, en hoewel dit reeds weg was, het dit aangedui die pakkie sou eers Vrydag by die kliënt afgelewer word.

Ek het my geld – R250 – terug gevra omdat hulle my gewaarborg het dit sal oornag afgelewer word, en dit is waarvoor ek ekstra betaal het, maar hulle wou my nie terugbetaal nie. Ek voel ek verloor ook nou die inkomste van die koeksisters, want teen die tyd dat dit by die kliënt aankom, is dit nie meer vars nie.


Hannelie Swanepoel,

Saldanha

Ek persoonlik waarborg aan geen kliënt dat hul pakkie die volgende dag afgelewer sal wees nie, veral nie op pad Richardsbaai toe nie, want ek weet dinge kan skeef loop, en dit het al. Dit word ook aangedui op ons PostLink-koerier-vorm by bepalings en voorwaardes dat tye (optel en aflewer) nie bepaal word of gewaarborg is nie, waarby elke kliënt teken. Ons by PostLink Saldanha vra hartlik om verskoning vir enige ongerief. Dit gebeur selde en dit is ongelukkig buite ons beheer. Ons probeer altyd ons kliënte na die beste van ons vermoë help. – Johan, PostLink Saldanha

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article