Ons Winkel is die skenkingswinkels van Solidariteit Helpende Hand en volgens hul webtuiste is daar bykans 127 winkels landswyd, waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere, meubels, kombuisware, linne en klere kan afgee.
Die winkels ontvang die skenkings en verkoop die goedere teen bekostigbare pryse aan die publiek.
Inkomste van Ons Winkel finansier onder meer studiefondse en maatskaplike projekte in die gemeenskap.
Alecia Bryant, die eienaar van Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel in Piketberg, leef haar passie uit deur haar gemeenskap met liefde en toewyding te dien. Vir haar is Ons Winkel meer as net ‘n plek waar mense tweedehandse goed kan koop – dit is ‘n bron van hoop en ‘n manier om ‘n praktiese verskil in mense se lewe te maak.
“Nie ek of my man het die voorreg gehad om te gaan studeer nie. Om deur die Ons Winkel ‘n verskil te kan maak, en te weet van die geld word vir studiefondse gebruik, was vir my die kernfaktor hoekom ons die Ons Winkel gekoop het,” vertel Bryant.
Sy en haar man, Francois, is ook die eienaars van Bryant Bodyworks in Piketberg en is bekende gesigte in die dorp. Die Ons Winkel in Piketberg bestaan reeds vyf jaar en Bryant het in Oktober 2024 eienaarskap oorgeneem.
“Die gemeenskap het regtig hul harte oopgemaak en die skenkings is fantasties,” vertel sy. In Vredenburg het Annette van Schalkwyk die Ons Winkel in Julie vanjaar in Hill-straat geopen en vertel sy het nie besef sy gaan so besig wees nie.
“Die gemeenskap se skenkings is hartroerend en klante wat produkte kom koop, is verbaas oor die goeie gehalte en lae pryse,” vertel Van Schalkwyk.
“As jy jou huis in die Kerstyd wil ‘spring clean’, kontak gerus Ons Winkels en skenk jou goedere. Só help jy ‘n kind om te gaan studeer of help jy met gemeenskapsprojekte, ‘n ideale manier om betrokke te raak.
• Kontak Van Schalkwyk in Vredenburg by 061 059 3587 en Bryant in Piketberg by 072 718 3768.





