Die rooi strik is op Vrydag 16 Januarie geknip toe Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel Vredenburg sy nuwe perseel in Skoolstraat 15 amptelik geopen het.
Annette van Schalkwyk, die eienaar van die plaaslike tak, het spesiale gaste en lede van die gemeenskap met ‘n hartlike ontvangs verwelkom.
Gaste is bederf met koffie en kolwyntjies terwyl almal uitgesien het na die simboliese oomblik wat die nuwe hoofstuk vir die winkel sou inlui.
Ons Winkel Vredenburg het aanvanklik in Julie verlede jaar in Hillstraat geopen.
Volgens Van Schalkwyk bring die verskuiwing na Skoolstraat groter sigbaarheid vir die winkel, meer voete deur die deur en ruim parkering vir klante – alles faktore wat die winkel se groei sal ondersteun.
Carina van Niekerk, die area-bestuurder van Ons Winkels aan die Weskus, het die verrigtinge met skriflesing en gebed geopen.
Van Niekerk het haar trots uitgespreek oor die netjiese en goed georganiseerde winkel, en spesifiek verwys na die manier waarop die goedere uitgestal word.
“Die klere is netjies volgens kleur uitgepak en die winkel skep onmiddellik ‘n indruk van goeie bestuur en orde,” het sy gesê.
Van Schalkwyk het op haar beurt die gemeenskap bedank vir hul volgehoue ondersteuning en skenkings en inwoners aangemoedig om Ons Winkel Vredenburg op sosiale media vir nuus en spesiale aanbiedinge te volg.
Nadat die rooi strik geknip is, is die nuwe perseel amptelik geopen en klante het vinnig begin instroom om die winkel te verken.





