Afrika is my bloed. Die liefde vir my land en vasteland sal niemand kan uitwis nie. Dis nou maar eenmaal ’n feit soos ’n koei – ek is ’n kind van Afrika.
Ek wil my verstout om te sê die meeste van my mede-Suid-Afrikaners sal met hierdie stelling van my saamstem. Hierdie stelling kom teen die agtergrond van soveel uitdagings wat ons land tans in die gesig staar. Hierdie uitdagings is legio van aard, maar dit het my darem nog nie tot die punt gedryf waar ek eerder wil oppak en landuit wil trek nie. Nee, want, jy sien, op my ouderdom begin jy ’n paar keer dink voordat jy ’n drastiese besluit oor jou toekoms neem.
Dus kyk ons maar die uitdagings vierkant in die oë en maak die beste van dit wat ons tans het. En, soos die gesegde lui: Of jy heeldag sit en kla en skel oor alles wat ten gronde gaan – die lewe hier aan die suidpunt van Afrika gaan voort. En of jy nou glo dat mense nog rede het om vandeesmaand deel te wees van enige Vryheidsmaand-vieringe of nie – wel, iewers in hierdie mooi land van ons gaan iemand steeds die landsvlag hoog laat wapper en ons herinner aan dié wat die stryd gestry het sodat ons vandag ten minste as landsburgers vryheid in die algemeen kan beleef.
Ek benadruk weer vryheid in die algemeen, want dis hoe dit deesdae al meer vir my voel. Ons “groeiende” demokrasie neem deesdae ’n vorm aan wat die meeste van ons die asems laat ophou en almal in ’n wag-en-kyk-posisie plaas. Moet ek bysê – die wag en kyk hou vir ons ook ’n geleentheid in om uiteindelik die mag van ons stem by die volgende verkiesing te laat geld. Selfs dan wonder ’n mens of jou stem hierdie keer werklik ’n verskil sal maak.
Hoekom die wonder? Die rede is eenvoudig – as landsburgers het ons al te veel gesien hoe daardie politieke beloftes ná ’n verkiesing soos mis voor die son verdwyn.
So, wat dan van die vryheid waarna almal van ons ná die 1994-verkiesing so uitgesien het? Wel, in hierdie stadium lyk dit asof ons almal maar net kan hoop en droom dat dit wel eendag sal realiseer, en dat daai eendag gouer as later sal geskied, want ons is gatvol – gatvol van soveel dinge in ons land wat skeefloop; soveel so dat ’n mens se aptyt vir nog ’n Vryheidsmaand met al sy vieringe amper daarmee heen is.
Dis dan op hierdie punt waar jou Afrika-bloed inskop en jy opnuut besef jy moet die geveg met alles in jou voortsit om die vryheid in jouself te vier en jou stem hard en duidelik te laat hoor dat niks of niemand daardie vryheid van jou sal wegneem nie – nie eens ’n erg beseerde politieke bestel nie.
Gaan kyk maar hoe doodgewone Suid-Afrikaners deesdae begin saamstaan om die gemors wat politici veroorsaak het, reg te maak. Vir die eerste keer is die besef daar dat as ons nie gaan inspring en hande vuil maak nie – die politici gaan dit gewis nie doen nie. Dis ons trots om deel van Afrika te wees wat hier boekdele spreek; dis ons honger om ons land nie ten gronde te sien gaan nie. Ons sal dit nie toelaat nie. Daarvoor is ons te lief vir hierdie pragtige land van ons.
Hierdie suiwer patriotisme is iets wat ons nodiger het – meer as ooit tevore.
Die grondslag daarvan, wat praktiese uitvoering gee aan die beginsels soos vervat in ons land se Grondwet, en die hartklop daarvan, is dat almal in ons land daarby baat vind.
My wens is dat hierdie aksies van ons landsburgers uiteindelik ons politieke leiers skaam sal maak en hopelik weer in voeling sal bring met die mense wat hulle in daardie posisie geplaas het met ’n kruisie wat ’n paar jaar gelede op ’n stembrief getrek is. Ek meen – politieke leiers, ons mense is nie dom nie; as landsburgers verdien ons baie beter as die oorskiet van Vryheidsmaand-vieringe wat ons jaar ná jaar aanskou.
So, op pad na nog ’n Vryheidsdag is ek gewapen met my liefde vir my land en al sy mooi mense; sal ek die krag van my pen gebruik om ’n stem van hoop te bring in ’n tydvak van ons land se geskiedenis waar juis hoop so ’n duur kommoditeit begin raak het.
En, glo my, hierdie Vryheidsdag sal ek my met trots vereenselwig met ons dapper leiers wat eens op ’n tyd die weg na politieke vryheid vir ons gebaan het.
Ek sal my herinner aan die woorde van tata Madiba, wat hom beywer het vir die bevryding van ons almal in Suid-Afrika. Meer nog sal ek my herinner aan die feit dat dit nie net sy woorde was wat ons geïnspireer het nie, maar veral sy dade, wat boekdele gespreek het.
Vryheid begin by die self. Dit gee ons oorgenoeg rede om dit met ander te deel.





