Dit was ’n donker week in nuuskantore landwyd – net so in die Weskus – nadat ’n jong pa in ’n motorbotsing van sy gesin weggeruk is en ’n wetstoepasser van die aanranding van sy eksvrou aangekla word.
Die verdwyning en beweerde moord op die 13-jarige Jerobejin van Wyk van Klawer het skokgolwe deur die land gestuur en verdere onthullings wat die afgelope week deur die beskuldigde aan sy prokureur gemaak is, het behoorlik die hare laat rys. Vir jare het die beskuldigde, wat self by monde van sy prokureur erken het dat hy van jongs af by die okkulte betrokke is en glo nog moorde in die Kaapse voorstede gepleeg het, doodluiters in die dorp rondbeweeg – sy bure, en die gemeenskap salig onbewus van hom. Dit laat opnuut die vraag ontstaan: hoe goed ken jy regtig die mense om jou? Die dae dat mense met varsgebak aan nuwe intrekkers/bure se deure gaan klop om hulself voor te stel, is lankal reeds verby, so ook die dae dat mense nog ’n wenkbrou gelig het as jong kinders alleen in die strate rondwandel. Op die oog af lyk dit of net te veel faktore teen Jerobejin getel het – kon ooggetuies op die ongelukstoneel waar die jong seun raakgery en oënskynlik toe op die agterkant van die beskuldigde se bakkie gelaai is dit vinniger aangemeld het en sou hy betyds opgespoor kon word as die polisie moontlik vinniger gereageer het toe hy as vermis aangegee is? Dit is vrae waarop daar heel waarskynlik nooit ’n antwoord gaan wees nie, maar hoeveel aanrandings, vermiste mense en moorde gaan dit nog verg voordat ons ingryp?



