So lyk die sinkstrukture waaroor die bure kla.


Die strukture van die “plasie” langs ’n woongebied raak al meer en bokke loop tot die bure se groot ontsteltenis in die woonbuurt rond.

Vredenburgers kla weer oor die “onooglike woonstrukture” in die veld op die buitewyke van Vredenburg in die Tierkloof- en Bouvier-omgewing.

Weslander het in September verlede jaar vir die eerste keer oor die klagtes berig en volgens die inwoners wat vandeesweek met Weslander gepraat het, raak die “probleem net erger” en “doen die munisipaliteit absoluut niks daaraan nie.”

Die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) het voorheen aan Weslanderverduidelik dat die strukture naby die Tierkloof-woonbuurt op privaat grond opgerig is.

Ethne Lawrence, woordvoerder van SBM, het in September verlede jaar by navraag aan Weslander gesê die sinkstrukture naby Tierkloof en Groenkloof is glo met die toestemming van die grondeienaar opgerig. Die inwoners in die omgewing sê daar woon mense op die perseel en bokke en skape wei daar rond. Hulle is oortuig dis ’n boerdery wat vanaf dié eiendom bedryf word. Die Tierkloof- en Groenkloof-woonbuurte grens aan landbougrond en die aangrensende boer het ook glo oor die strukture teen sy plaas by SBM gekla. ’n Inwoner wat kies om anoniem te bly en wat in een van die strate digby die “sinkstruktuur-boerdery” bly, het verlede jaar met Weslander gepraat en sê hy het by SBM uitgevind die grond is steeds gesoneer vir landbou en dis oënskynlik die wetlike skuiwergat wat gebruik word sodat hierdie bedrywighede reg langs ’n woongebied kan voortgaan.

Dit blyk die gebruik van hierdie grond wat teen ’n plaas en reg langs ’n dorpswoonbuurt is, is dus ’n grys gebied wat die reg betref.

Hy sê egter die bure raak almal toenemend ontevrede. Twee ander vroulike bure het vandeesweek ook by Weslander gekla oor die “uitbreiding van die plasie”. Inwoners meen ’n bouplan moes ingedien word en die mense kan nie net voortgaan soos hul goeddink nie. Weslander het weer vandeesweek ’n navraag aan SBM gerig en Lawrence het weer bevestig dat die strukture op privaat grond is wat vir landbou gesoneer is.

“Boubeheer neem reeds kennis van die strukture en die klagte. Die strukture hou verband met die sonering en is feitlik tydelike strukture gemik op die plaasverwante aktiwiteite,” het sy verduidelik. Die bure is egter glad nie tevrede met die stand van sake nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article