Thomas (Tommy) Davids, wat diep spore in die onderwys in die Weskus getrap het, het Vrydag 28 Junie sy laaste asem uitgeblaas ná ’n siekte op die ouderdom van 82.
Sy gesin was aan sy sy by die Helderberg-hospies in Somerset-Wes en het dit beskryf as “die einde van ’n era”.
Davids, ’n boorling van Pniël in die Boland, met ’n lewenslange passie vir onderwys en vir sy gemeenskap, het sy ganse beroepslewe van meer as 30 jaar aan voorskoolse, primêre asook sekondêre onderwys gewy.
Hy is op 2 November 1941 gebore en het hom aan die destydse Hewat-onderwyskollege in Kaapstad as onderwyser bekwaam.
Davids se onderwysloopbaan het in 1963 aan die Albert Myburgh Sekondêre Skool in Bredasdorp begin. Hy is met Elize, ’n boorling van Stanford en ’n onderwyseres by Medland Primêr, getroud.
Daarna het hy ’n pos by Luckhoff Sekondêre Skool in Idasvallei, Stellenbosch, aanvaar.
Davids het ’n pos by die Bergrivier Sekondêre skool in die vroeë sewentigs aanvaar en na Newton, Wellington, verhuis.
Daarna – in die laat sewentigs – het hy hom in die primêre-onderwys-sektor begewe en ’n pos as prinsipaal van ’n vyfmanskool by Rust Stasie NGK Primêr, tussen Moorreesburg en Malmesbury, aanvaar. Hier het Davids talle take buiten sy pligte as klasonderwyser vir grade vyf en ses, asook as prinsipaal, verrig.
Take soos skoolbusbestuurder, noodhulpbeampte, rugbyafrigter en skeidsregter, katkisasiemeester en diaken word aan hom toevertrou, terwyl die Davids-gesin slegs 50 m van die skoolgebou af gewoon het.
Intussen het hy ook deeltyds aan Unisa studeer en sy BA-graad in opvoedkunde vroeg in die jare tagtig behaal.
Davids het ’n pos as prinsipaal aan OJ Erasmus NGK Primêre Skool in Kalbaskraal in 1982 aanvaar.
Hy is kort daarna na Saxonsea Sekondêre skool in Atlantis as adjunkhoof gesekondeer. Met die skielike uittrede van die hoof van daardie skool het hy die tweede hoof van Saxonsea Sekondêr geword.
Davids is in die vroeë negentigs as inspekteur van skole (deesdae Kringbestuurder) in die Weskus-onderwysdistrik aangestel – ’n pos wat hy tot sy aftrede in 1996 beklee het.
Hy was ook ’n bestuurslid van die Kaapse Professionele Onderwysersunie (KPO) onder leiding van dr. Franklin Sonn, in lewe rektor van die Skiereilandse Technikon en later ambassadeur in die VSA. Ander lede was Andrew de Laura, die destydse skoolhoof van Schoonspruit Sekondêr; Chris Goliath, oud-burgemeester van Malmesbury en ander onderwyskollegas.
Davids se passie vir kleuteronderrig het tot gevolg gehad dat hy minstens drie kleuterskole in sy tyd help stig het, onder meer in Idasvallei Stellenbosch, Stepping Stones in die Paarl en Vrolike Vinkies in Malmesbury. Hy was ’n lid van die Stigting vir Gemeenskapswerk onder leiding van Beulah Fredericksen en was ’n aktiewe lid van die organisasie.
Volgens sy seun, Ervin Davids, was sy pa ’n man van integriteit, inbors, empatie vir minderbevoorregtes en trots op sy herkoms. Hy het nie geskroom om sy personeel, kollegas en selfs senior skoolhoofde aan te spreek oor ongedane sake nie en sal nog lank daarvoor onthou word.
Hy laat sy vrou van 57 jaar, Elize, drie kinders, sewe kleinkinders en ses agterkleinkinders agter.





