Groeipyne?
Die Dalbarton-onafhanklike plaasgemeenskap in die omgewing van Dwarskersbos is pas uit die wegspringblokke, maar alles op die plaas verloop nie so seepglad soos verwag is nie.
Die Dalbarton Farm Village is op die plaas Pampoenkraal naby Dwarskersbos geleë.
Dalbarton is op sy webtuiste as ’n onafhanklike, selfstandige plaasdorpie bemark waar mense ’n rustiger en veiliger plaaslewe, weg van misdaad en nader aan die natuur, kan kom geniet.
Dalbarton is verbonde aan ’n terrein van 2 500 km² binne die Bergrivier- munisipale gebied, wat as onafhanklike staat erken is.
Weslander het voorheen berig dat die Verenigde Suid-Afrikaanse Federasie (VSAF, of USAF in Engels) die onafhanklikheid van die eerste Zuidlandstaat op 6 April 2019 verklaar het.
Volgens Brian Dalton, voormalige direksielid van die Dalbarton-projek, het die eerste burgers wat grond in Dalbarton gekoop het, teen einde 2019 op die plaas aangekom.
Verskeie huise is sedertdien op die plaas gebou. Volgens die direksielid adv. Carlo Viljoen is werklik goeie vordering gemaak met goeie toekomsvooruitsigte by Dalbarton – dit ten spyte van die vele uitdagings wat Covid-19 en die inperkings opgedis het. Beplanning sluit onder andere ’n yslike seewaterontsoutingsaanleg asook talle sakegeleenthede vir die inwoners in.
Onderliggende spanning heers egter weens dispute tussen Dalton en die nuwe direksie, Rodney Bartman en Viljoen. Sommige inwoners steun Dalton en ander die nuwe direksie, en dit het in ’n lelike aanlyn moddergooiery en wedersydse slegsêery ontaard.
Scott Balson, ’n onafhanklike joernalis, het onlangs in ’n video-onderhoud op sy aanlyn-platform, die Loving Life TV Community channel, met die verskillende partye oor die klagtes gesels. Balson het aan Weslander gesê baie van die inwoners voel hulle word deur Viljoen en Bartman intimideer.
Bartman beweer egter hy en sy gesin is ook deurlopend op sosiale media deur die inwoners geboelie, belaster en geteister. Hy het in Februarie om ’n beskermingsbevel teen 11 respondente by die Piketberg-landdroshof aansoek gedoen. Viljoen het ook aan Weslander gesê hy het ook deurgeloop en was genoodsaak om die hof vir ’n beskermingsbevel te nader.
Tydens die onderhoud het Dalton gesê die verhouding tussen hom en Bartman het reeds in 2020 versuur. Dalton beskuldig Bartman daarvan dat hy sy naam oral op die internet en sosiale media sleg gemaak het. Ná Dalton se uittrede as direksielid is Viljoen as nuwe direksielid aangestel. Dalton sê Viljoen is onwettig aangestel.
Viljoen het op sy beurt verduidelik waarom sy aanstelling volgens hom heeltemal wettig was. Hy het vandeesweek aan Weslander gesê hy is aangestel om die “gemors” te kom “regmaak”.
Volgens Viljoen het die “gemors” te doen met beweerde finansiële ongerymdhede wat reggestel moes word en wat nog ondersoek word.
Weslander het ook navraag aan Dalton gestuur, maar hy het teen druktyd nog nie op die vrae geantwoord nie.
Viljoen het tydens die onderhoud, maar ook aan Weslander, gesê hy voel Balson se video-onderhoud was eensydig aangesien baie ander tevrede en eendersdenkende aandeelhouers op Dalbarton woon.
Viljoen het aan Weslander gesê investering in Dalbarton is ’n baie goeie belegging omdat “ons ’n veilige, vreedsame en voorspoedige gemeenskap is, ons die mees progressiewe grondwet ter wêreld het en omdat ons aan mense wat dieselfde kultuur, godsdiens en taal deel, ’n geleentheid gee om deur hul eie mense regeer te word.”
Scott Balson se volle video-onderhoud is by lovinglifetv.com te sien.





