Olie en brandstof wat van die wrak van die MV Ultra Galaxy-vragskip op die strand by Strandfontein in die Weskus uitgespoel het, is volgens Cape Nature skoongemaak.
Luke Folb, ’n woordvoerder vir Cape Nature, het bevestig dat Spill Tech, ’n stortingsbestuurmaatskappy, die olie en brandstrof binne ’n paar dae skoongemaak het. Hy het bevestig dat die uitwerking op die ekostelsel minimaal was en geen oliebesmeerde diere vir rehabilitasie versamel is nie.
’n Strandfontein-inwoner, Annamarie Barnard, het ook vandeesweek aan Weslander bevestig die olie is nie meer op die strand en in die branders sigbaar nie.
Folb het ook gesê hy weet nie van enige verdere stortings van olie nie en die Lambertsbaai Bird Island-natuurreservaat het ook nie oliebesmeerde voëls of diere aangemeld nie.
Cape Nature gaan egter steeds voort met gereelde monitering aan weerskante van die Olifantsriviermond, in Strandfontein en verder suid.
Die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) het bevestig die olie kom uit die wrak van die Ultra Galaxy, wat tans deur ’n Chinese kontrakteur, Shanghai Salvage Co, ook bekend as China Ocean Engineering Solutions Limited, uit die gebied verwyder word. Die maatskappy is in 2024 aangestel om die wrakverwyderingsoperasie te onderneem.
Volgens inligting op verskeie vaartuigopspoorwebwerwe is die124,56 m lange Ultra Galaxy-vragskip in 2008 in Panama gebou, wat dit tans 17 jaar oud maak.
Dit het in Julie verlede jaar in rowwe seetoestande gestrand geraak en in twee geskeur. Meer as 500 ton olie en brandstof, asook ’n vrag kunsmis, het uit die wrak gespoel.
Die risiko dat olie tydens wrakverwyderingsoperasies sal uitlek, was glo “te wagte” en ’n “inherente risiko”, volgens Mbalenhle Golding, Samsa se waarnemende uitvoerende hoof. Voordat sy begin opbreek het, kon agt ton mariene gasolie uit ’n bunker in die wrak verwyder word. Daarna het Samsa gesê die verwydering van die oorblywende olie en brandstof aan boord van die wrak is nie meer haalbaar nie en dat op die verwydering van die wrak van die Weskusstrand af gefokus word.
Samsa verseker dat hy gereed staan met ’n besoedelingsreaksieplan om op enige oliestorting te reageer – insluitend ’n volledige opname van die geraakte gebiede – om die omvang van die besoedeling te bepaal.
Sodra Spill Tech olie van die strande verwyder, word die volgelaaide vullishouers op ’n vragmotor gelaai en gerangeer vir veilige wegdoening op ’n geakkrediteerde stortingsterrein.
Die publiek word versoek om enige waarnemings van wild wat geraak is, of oliebesoedeling wat sigbaar is, by Samsa by 021 938 3310 aan te meld.. Bykomende bronne: The 10th Province, WorldCargo News.




