Van Lill se nuutste enkelsnit maak groot opslae.

Of dit nou by ‘n troue of ‘n musiekfees was – iewers sou ‘n mens al met hierdie talentvolle kunstenaar kennis gemaak het. Wie is die man agter die kitaar egter as hy nie besig is om musiek te maak nie?

Louis Van Lill, wat op 2 Oktober 1986 in Kimberly gebore is, het saam met sy gesin na Redelinghuys verhuis en die gesin het hulle in 2003 in Velddrif gevestig. Vandag woon hy en sy eie gesin in Vredenburg.

As Louis nie besig is om musiek te maak nie, bring hy graag sy beskikbare tyd saam met sy familie en vriende deur.

Gesinstyd is vir hom baie belangrik aangesien hy die meeste van die tyd weg van die huis af is. Wanneer hy so af en toe tyd het, speel hy graag rekenaarspeletjies vir ontspanning.

Louis het nog altyd ‘n liefde vir musiek gehad, maar in 2000 in die “punk en rock”-era, soos hy dit noem, het die gogga hom gebyt nadat sy pa hom geleer kitaar speel het. Vandat hy op die verhoog kon musiek maak, het sy liefde vir die bedryf net gegroei.

Hy is ook alombekend vir sy trefferliedjie “Saaragaand” saam met Arno Jordaan. Sy liedjie “Jamaica” is ook al beskryf as ‘n catchy new radio hit. Dit is by die Van Coke-ateljee in Kaapstad opgeneem. “Jamaica” was ook sy eerste amptelike radiovrystelling in 2021.

Louis se nuutste enkelsnit, “Druppels”, is besig om groot opslae in die musiekbedryf te maak sedert dit die afgelope Vrydag (1 Augustus) vrygestel is.

Hy vertel dat hy en ‘n vriend saam aan die lied geskryf het, maar nooit by die eindproduk uitgekom het nie. Hy het toe verder aan die liedjie geskaaf en dit laat “leef”, want anders sou dit net ‘n verlore lied gebly het. Die lied gaan oor vrede en om deur moeilike omstandighede te kom.

“Die reën simboliseer dat alles weer skoongewas word. Soms gaan dit sleg en moet jy die pad alleen aandurf, maar so leer ons …”

Hy voer aan die liedjie is reg uit die hart geskryf en dat enigeen daarmee kan identifiseer. “Hoewel dit aan die hartseer kant is, spreek dit diep emosie en gevoe-

lens aan waarmee baie mense hulself kan vereenselwig.”

Vir Louis is musiek nie net klank nie, maar “dit is ook ‘n vorm van genesing”. Sy musiek skep ‘n ruimte waarin mense hulself kan herken, troos vind, of eenvoudig net die musiekklanke kan geniet. Dalk is dit juis hierdie liefde-uit-die-hart-musiek wat hom in die wêreld van musiek laat uitstaan.

Hy het onlangs ‘n kontrak met die gewilde Vonk-platemaatskappy onderteken, wat sedert 2004 aan die voorpunt van Afrikaanse musiek staan.

Vonk se missie is om Afrikaanse musiek te laat vlamvat – ‘n goeie kombinasie vir Louis en sy nuutste enkelsnit, wat reeds wyd en syd op sosiale media gedeel word. Tertius Human, wat die kitaarwerk saam met Van Lill behartig, het dié enkelsnit opgeneem en vervaardig.

“Vinnie Henrico het die tromme gespeel. Volgens my is hy ons land se beste tromspeler. Dit was ‘n voorreg om hom aan boord te kon hê,” het Louis gesê.

Hierdie is egter net die begin. Nog twee enkelsnitte is op pad, sowel as twee musiekvideo’s wat, volgens Louis, iets heeltemal anders gaan bied.

Hy moedig graag jong musikante aan om hard te werk en nie tou op te gooi nie. “Just keep on going, maak nie saak wat nie. Gebruik elke geleentheid wat jy kan. Dis ‘n harde, moeilike bedryf, maar gewis die moeite werd.”

Louis bedank sy familie en vriende wat altyd bankvas agter hom staan – veral sy vrou, wat die “fondasie” van hul huis is, soos hy dit noem, en altyd sorg dat dinge seepglad verloop terwyl hy op die pad is om sy droom uit te leef.

• Indien jy nog nie die enkelsnit “Druppels” gehoor het nie, kyk op stromings-

platforms soos Spotify en Apple Music.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article