Een van drie Lambertsbaaise mans het ’n noue ontkoming gehad nadat die kreefskuit waarmee hulle op die see gevaar het, omgeslaan en sy twee kollegas verdrink het.

Volgens Avril Mocke, die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) Lambertsbaai se stasiebevelvoerder, het die kreefskuit waarop die oorlewende was – sy naam is nog nie bekendgemaak nie – asook sy twee kollegas, Sydney Busakwe (72) en John Dirks (37), Vrydag (26 Januarie) omstreeks 08:45 naby Grootvlei omgeslaan.

Die NSRI se Lambertsbaaispan het omstreeks 09:30 sy reddingsboot, Spirit of Saldanha, uitgestuur.

Die Lambertsbaai-polisie, ramprisikobestuur, die Wes-Kaapse EMS-ambulansdienste, NSRI Mykonos en die polisie se waterpolisiërings- en duikdienste het hulle na die gebied gehaas.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, het die skuit naby die kus omgeslaan en al drie mans in die water beland.

Bemanningslede van ’n ander visserskuit kon die oorlewende red, maar kon nie vir Busakwe of Dirks opspoor nie.

Paramedici het die oorlewende by die Lambertsbaai-hawe vir ligte beserings weens sy amper-verdrinking behandel.

Daarna is hy per ambulans na die naaste hospitaal vervoer, waar hy na verwagting ten volle sal herstel.

Tydens ’n see- en kuslynsoektog het reddingswerkers op die oorledenes se lyke in vlak water afgekom.

Die reddingswerkers het die branders ingevaar en albei mans se lyke na die strand gebring.

Paramedici het hulle dood verklaar.

Die staatsgesondheidsafdeling se forensiese patologiedienste het die lyke geneem om met lykskouings te begin.

Die Lambertsbaai-polisie sal ’n geregtelike doodsondersoek doen.

Die kreefskuit het intussen op die rotse geloop.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article