Maryna Hoop en Hayley Lazarus, die eienaars van Wishy Washy Cleaning Services.


Twee Hopefield-skoonmakers meen dit is nooit te laat om jou lewe te verander nie en het dus onlangs besluit om entrepreneurs in die skoonmaak-bedryf te word.

Hayley Lazarus (49) en Maryna Hoop (43) was algemene werkers en skoonmakers, maar die twee was altyd ambisieus en het geweet groter dinge wag op hulle. Die twee, wat by die Kropz-myn gewerk het, het besluit om aan dié maatskappy se SMME-program deel te neem. Hierna is Wishy Washy Cleaning Services gebore. Die onderneming is in Maart 2020 geregistreer.

“Ons het die geleentheid gesien en met albei hande aangegryp. Die doel was om van skoonmakers na sake-eienaars te vorder; om die leer te klim, was ons motto,” verduidelik Hoop.

Benewens sakevroue is Lazarus en Hoop ook ma’s. Lazarus sê egter sy was op die uitkyk vir groter en nuwe uitdagings. Dié twee Hopefielders het daarom in Desember 2019 met die kursus, aangebied deur Kropz en Trioplus, begin.

“Om afhanklik te wees en ons eie inkomstes te skep, was ook ’n aansporing tot die program vir al twee van ons. Die ervaring met die program was baie leersaam. Ongeag Covid-19 was dit opvoedend en gewis harde werk, maar sonder twyfel die moeite werd!” sê Lazarus.

Wishy Washy spesialiseer in die skoonmaak van huise sowel as kantore. Enigeen wie se perseel ’n “deep clean” nodig het, sal dié span se skoonmaaksessie van badkamers/storte, vensters, sitbanke, matrasse asook wasgoed waardeer.

Hulle verduidelik een van hul grootste uitdagings was om hul onderneming te bestuur terwyl hulle self die werk gedoen het, maar dit het ook ’n geleentheid vir werkskepping tot gevolg gebring. “Wishy Washy was onderbeman – slegs ons twee werkende direkteure – en namate die verantwoordelikhede en pligte meer begin raak het, kon ons ander werkers in diens neem en vandag is ons altesaam vier.

“Ons hoop om nog groter te groei en in die toekoms ’n bietjie meer gewig by die onderneming te voeg. Ons beoog ook om verder uit te brei om meer kontrakte te kry sodat ons meer werk in en om ons gemeenskap kan skep.”

Dié sakevroue meen dit was juis die vooruitsig om ’n werkskepper in hul tuisdorp te wees wat hulle deur die kursus gemotiveer het.

Hoop en Lazarus sê Weskussers wat daaraan dink om ’n nuwe kursus of entrepreneurskap aan te pak, moet onthou “niks is te moeilik om te oorkom nie; wees net gemotiveerd en doelgerig”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article