Die rubriekskrywer Andre Smith met sy tweede bundel, Die Knokkerboomblom sal weer bot.


Andre Smith, ’n gereelde rubriekskrywer vir Weslander, het sopas sy tweede boek vrygestel. Dié bundel, Die Knokkerboomblom sal weer bot, verskyn slegs twee jaar nadat hy sy debuutbundel, My Sandveldbos, in 2021 die lig laat sien het. Sy debuutbundel is as ’n selfpublikasie uitgegee. Sy tweede bundel is op Vrydag 11 Augustus deur Malherbe Uitgewers in KwaZulu-Natal vrygestel.

Suid-Afrikaners het as inspirasie vir sy jongste bundel gedien.

“Dis my omgee-hart vir my medemens wat my hand beweeg om te skryf. Waar ander net die vaalte en eenvoud sien, gewaar my oog die mooi van die mens voor my. Daar is soveel van ons doodgewone Suid Afrikaners wat nooit die erkenning sal ontvang vir die positiewe impak wat hulle in ons gemeenskappe maak nie. Ek is passievol daaroor om hierdie mense se stories te vertel. Iemand moet en sal weet van hulle, want daar is soveel inspirasie, wysheid, omgee en hoop in hierdie stories opgesluit,” sê Smith.

“Met soveel uitdagings wat ons as Suid-Afrikaners deesdae in die gesig staar, wil elke inspirasie-storie en rubriek ’n vars briesie hoop na die leser bring. Elke storie en rubriek wil die boodskap oordra dat jy nie alleen is nie. Dat daar soveel goed en mooi in hierdie land van ons is en dat dit absoluut die moeite werd is om dit met mekaar te deel.”

Smith sê met hierdie bundel nooi hy lesers uit om nuwe hoop en moed te skep, saam te lag en wonder en “sommer net weer tuis te voel in ons mooi land”.

“En onthou – ons is Afrika en Afrika is ons! Geniet die lees.

“Ek is geweldig trots op hierdie mylpaal wat ek behaal het en ek is absoluut seker daarvan dat die lesers hierdie boek van my baie sal geniet.

“Dis vir my ook aangenaam om ons lesers in te lig dat my boek vir die eerste keer nasionaal en internasionaal beskikbaar sal wees,” sê hy.

Smith se boek is op aanvraag by alle Bargain Books-winkels nasionaal beskikbaar. Dit kan ook aanlyn bestel word. Stuur ’n epos na sales@malherbe-uitgewers.co.za of WhatsApp 068 301 7883.

Die Knokkerboomblom sal weer bot is ook op Amazon beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article