Nolan Adams is by die rugbywedstryd tussen Vredenburg en Piketberg vereer. Van links is Pieter van Wyk (bestuur), Muré Pickard (eerstespankaptein), Annaline Dirks (Nolan se ma), Arend Markus (voorsitter van Piketberg-rugbyklub) en Manuel Dirks (Nolan se stiefpa). Foto: Mike van der Coke


Piketberg het Saterdag ’n minuut van stilte gehou om eer te bring aan Nolan Adams. Soos voorheen berig, is Nolan se lewe verlede jaar skielik kortgeknip.

Vredenburg het in sy wedstryd teen Piketberg die vaste faset goed benut en kon reeds in die vyfde minuut van die wedstryd sy eerste drie druk. Jodin Williams het van ’n lynstaan af gaan druk en met ’n strafskop minute later, oorgeklits deur Nezro Cleophas, was die telling 8-0.

Cheslinne Monk van Piketberg het hierna daarin geslaag om 50 m ver met die bal te hardloop, waarna hy na binne geswenk en die bal na Sashin Dirks aangegee het en ’n drie onder die pale verseker het. Piketberg se voorste puntemaker, Mure Pickard, het ’n verspot maklike doelskop deur die pale gejaag om die agterstand na 8-7 te laat krimp.

Nadat een van Piketberg se Rhino-spelers die bal op die grond vasgehou het, kon Nezro die bal oorskop om die telling te laat aanskuif na 11-7. Hierna het die Rhino-spelers telkemale ongedwonge foute gemaak, wat Vredenburg se kaptein, Conan Le Fleur (Kabamba), toegelaat het om twee keer te gaan druk.

Met die telling teen rustyd op 21-7 in die guns van Vredenburg, het die rooi ligte vir Rhino’s letterlik begin flikker.

Jean Papier se geelkaart in die tweede helfte het egter ’n ommeswaai gebring. Ná ’n tweede hoogvat het Piketberg daarin geslaag om die telling na 21-10 te neem. Cheslinne het sy eerste drie minute later gedruk en Mure se doelskop het die Rhino’s laat asem skep met die telling op 21-17. Vir Papier se 10-minute-geelkaart kon Piketberg letterlik vir elke minuut een punt aanteken.

Vredenburg se frustrasies was hoog toe Gerrit van Neel in die 22ste minuut ’n rooikaart ontvang. Dit het gelyk asof hy nie met die besluit van die skeidsregter wou saamstem nie. Kort hierna het die Speler van die wedstryd vir Piketberg, Cheslinne Monk, na binne getrap om die bal vir Christophai Booyse te voer en kon Piketberg vir die eerste keer in die wedstryd ná ’n skitterende drie voorloop. Die telling op hierdie tydstip was 22-21 in die guns van die Rhino’s.

Paniek in die Vredenburg-kamp het hoogty gevier en hulle is op die agtervoet gedwing. Ongedwonge foute en strafskoppe wat nie die teiken kon haal nie, het verdere onsekerheid onder die Burg-Boys gebring. Vredenburg het egter nie laat slaplê nie en is uiteindelik in die laaste minuut beloon met ’n drie nadat Dihago Booise die bal in die doelgebied nie onder beheer kon kry nie.

Vredenburg het die wedstryd met ’n oorwinning van 26-22 beklink.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article