“This is it, Bossy.”
Hierdie berugte woorde word in ’n Schuster-rolprent geuiter, net voor die Curriebeker gesteel sou word.
Met dié woorde is ’n begeesterde Rhino-span van Piketberg ook aangemoedig om ’n wendroogte ná drie vriendskaplike wedstryde te beëindig. Die wedstryd is Saterdag (17 Februarie) op sy tuisveld gespeel.
Piketberg het, twee weke voordat die Boland-liga se Uitdaagbekerwedstryde begin, daarin geslaag om die wa in sy vierde vriendskaplike wedstryd, teen die magtige Majestics van Citrusdal, deur die drif te trek.
Dit het soms gelyk asof dit ’n proefwedstryd was, omdat die Rhino-spelers teen van hul eie spanmaats, wat vir Majestics uitgedraf het, moes meeding. Die nuus rondom “bannelinge” uit Piketberg in die Majestics-opset het die tafel gedek vir skouspelagtige rugby.
Aanvanklik het dit egter gelyk of die wedstryd in ’n boksgeveg sou kon ontaard nadat verskeie teenstanders mekaar vroeg in die eerste helfte “beter wou leer ken”. Nietemin het die wedstryd gou op dreef gekom en kon Majestics reeds in die vierde minuut met ’n drie eerste bloed ruik.
Die telling het ná ’n verdoelde skop opgeskuif tot 7-0 in Majestics se guns.
Aanvanklik het Majestics voorlangs oorheers, maar in die tweede helfte les opgesê.
Majestics het in die 18de minuut weer onder die pale gaan kuier en met ’n verdoelde stelskop het die telling na 14-0 aangeskuif.
Dit het behoorlik gelyk asof die tuisspan op sy voete slaap en het net nie momentum gekry nie. Sommige Rhinos het gelyk asof hulle ’n trok met pap wiele was soos hulle van die een kant van die pad na die ander kant geswenk het.
In die 33ste minuut het die tuisspan se regtervleuel, Charlton Sias, wel soos die spreekwoordelike warm mes deur botter gesny en onder die pale gaan druk. Die losskakel Byron Baatjies kon ná twee maklike maar verbroude strafskoppe die bal deur die pale jaag om die voorsprong van Majestics met sewe punte te laat krimp.
Om Piketberg se wind uit sy seile te slaan, het Leonardo West, Majestics se woelige flank, gaan druk. Die doelskop het die telling voor halftyd na 21-7 in die guns van Majestics opgeskuif.
Ná harde woorde vir die Rhino-spelers het dit gelyk asof die span in die tweede helfte uit die dood herrys het. Die Rhinos het die rolle omgeruil en self hardlooprugby begin uitdeel. Die stutte wat van die Rhino-bank opgekom het, het behoorlik verwoesting gesaai. Sias het sy tweede drie in slegs die agtste minuut van die tweede helfte gaan druk. Keishan van Rooy, die aflos-losskakel, het die bal oorgeskop en die druk is effens verlig met die telling op 21-14. Marcelinno Adams het in die 16de minuut met ’n stormlopie oor die doellyn gejaag en die telling op 21-19 te staan laat kom.
Dit was behoorlik ’n wedstryd van twee helftes.
Met net een minuut se spel oor het Christophai Booise verder sout in die wonde van Majestics gevryf en soos die destydse Gysie Pienaar na binne afgetrap om die sege in die guns van Rhinos te beklink. Ná Van Rooy se verdoelde skop het die wedstryd op 26-21 in die guns van Rhinos geëindig.





