Die skietdood van ‘n jong man in Vredenburg het die gemeenskap diep geskud. Shermenn Williams (29) is verlede Woensdag (14 Januarie) omstreeks 21:25 in Boomstraat, Louwville, geskiet toe hy in sy motor gesit het.

Volgens die polisie het drie mans, wie se gesigte na bewe- ring bedek was, Williams in die voertuig genader en verskeie skote op hom afgevuur voordat hulle te voet van die toneel af gevlug het.

Inwoners sê die grudaad in hul dorp laat hulle geskok en bekommerd voel.

‘n Inwoner het op Weslander se Facebook-blad gesê dit is ongelooflik hartseer om te lees van die moord op ‘n jong man in Vredenburg. “Al het ek hom nie persoonlik geken nie, raak so ‘n sinnelose verlies ‘n mens diep. My hart gaan uit na sy familie, vriende en almal wat deur hierdie tragedie geraak word.”

Nog ‘n inskrywing vra hoeveel meer onskuldige lewens geneem moet word?

Inwoners sê hul gedagtes is by die gesin en familie in dié swaar tyd en dra hulle in gebed op.

Volgens Williams se ma, Shereen Williams, het haar seun pas van die winkel af teruggekom en geparkeer toe sy die skote hoor afgaan. Sy het uitgehardloop en toe sy haar seun in dié bebloede toestand sien, en dadelik die polisie gebel.

‘n Vriend het intussen agter die stuur ingespring en hom na die Vredenburg- provinsiale hospitaal gehaas. Ten spyte van mediese personeel se pogings om sy lewe te red, het hy later aan sy beserings beswyk.

Wyle Shermenn Williams.

Die oorledene was die broerskind van wyle Garth Williams, wat in Mei 2023 in ‘n skietvoorval oorlede is.

Die nuus van haar seun se dood het Shereen diep getref omdat daar reeds soveel hartseer en sterftes in die familie was. “Ek het al te veel seergekry en ek weet nie of ek nog seer kan hanteer nie.”

Sy beskryf haar seun as ‘n mense-mens, ‘n uitgaande jong man en iemand wat lief was vir die lewe. “Ek gaan alles van hom mis – van ons laatnaggesprekke tot die bederfies en al die klein dingetjies wat hy gedoen het.”

Die motief vir die aanval is nog onbekend.

Die Vredenburg-polisie het ‘n moordsaak geopen en ondersoek die omstandighede rakende die voorval. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Die begrafnis vind op Saterdag 24 Januarie om 11:00 by die Anglikaanse-kerk, Louwville, plaas.

Die misdaadtoneel was ná die moord ‘n miernes van bedrywighede.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article