Rhime Laubscher


Totsiens PA; hallo DA – hier is ek!

Dit blyk die sentiment van Rhime Laubscher, ’n gewese wyksraadslid van die Bergrivier, te wees.

Laubscher is die jongste plaaslike politikus wat die Patriotic Alliance (PA) vir die blou van die Demokratiese Alliansie agtergelaat het. Dié voormalige raadslid het in Julie aangekondig hy verlaat die PA, soos talle ander Weskus-PA-lede. Laubscher se oorloop volg nadat verskeie lede van die PA in Saldanhabaai ook by die DA aangesluit het.

Hy sê dit was juis die behandeling wat sy mede-PA-lede deur die party se bestuur moes verduur wat hom eers laat dink het dié party is nie meer vir hom nie. “Ek het reeds in Januarie begin dink daar is dinge wat my ongemaklik laat voel. Nadat ek gesien het hoe my medelede hanteer is en hulle nie ondersteuning van die bestuur ontvang het nie, het ek besef dit is nie die party vir my nie,” sê Laubscher.

In die verklaring oor sy bedanking sê Laubscher dit sou “onverantwoordelik” wees om stemme vir sy voormalige party te werf, aangesien stemme vir dié party volgens hom net na die ANC sal gaan. Hy meen die PA het geen amptelike plan om die ANC as opposisie te onttroon nie en hy het besluit hy kan beter doen by die “goed geoliede masjien” van die DA.

Laubscher en sy ondersteunings­basis, wat glo meer belangstel in hom as gemeenskaps­werker as aan watter party hy behoort, staan ook nou agter die DA. Hy sê ten spyte daarvan dat hy nie meer ’n raadslid is nie, lui sy foon nog daagliks oor gemeenskapsake.

“My vertrouelinge het my gevolg toe ek voorheen by die GOOD-party was en toe ek besluit om die PA te verlaat, het hulle saamgekom. Ons het dus by die bestaande DA-struktuur aangesluit, veral in aanloop tot volgende jaar se nasionale verkiesing,” sê Laubscher.

Hy is nou kiesafdeling­koördineerder vir die DA in die Cederberg.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article