Die Langebaner Peter Huxham (55) en Frederick Potgieter (53) van George ná hul inhegtenisneming. Die skermgreep is geneem van die nuusprogram naWETIN wat oor die Suid-Afrikaners se arrestasie berig het.Foto:


Die Weskus-streek se mense, ondernemings en instansies het vanjaar weer vele nuuswaardige gebeure opgelewer – hartseer stories, stories van merkwaardige mense en groot aksie. Ons lyk terug op gebeure wat die nuus gehaal het.

Januarie. Die nuwe jaar het op ’n somber noot begin toe vier mense op 9 Januarie ná ’n botsing op die R27 (Weskuspad) in ’n brandende motor gesterf het.

Denzil Abrahams (42) van Saldanha; sy dogter Mackenzie Abrahams (10), ’n leerder van die Laerskool Saldanha; sy skoonsuster Maureen Koopman (55); sy suster se dogtertjie, Kaydee Abrahams (7); en ’n nefie, Chriswin Markgraaf (13) van Kuilsrivier, was in ’n Volkswagen Golf na Kaapstad onderweg toe ’n voertuig van agter af teen die Golf vasgery het.

Denzil het beheer oor die voertuig verloor en dit het van die pad af gery en gerol.

Die motor het aan die brand geslaan en net ’n beseerde Denzil kon uit die brandende wrak gered word. Hy is per ambulans na die hospitaal geneem. Sy skoonsuster en die drie kinders was in die brandende motor vasgekeer en het op die toneel gesterf.. ’n Groot hoeveelheid “onwettige” kreefsterte is deur die owerhede by ’n bekende Weskus-restaurant ontdek.

Die verdagte is op 23 Januarie met betrekking tot dié kreefvonds by ’n Paternoster-restaurant in hegtenis geneem. Die polisie en die departement van omgewing, bosbou en visserye (Deff) was met die ontdekking van die meer as 600 kreefsterte op die toneel.

Die saak is op Dinsdag 29 Augustus om humanitêre redes teruggetrek, nadat die verdediging in ’n vertoë bewyse voor die hof gebring het dat die man ernstig siek is.

Februarie. Die Langebaner Peter Huxham (55) en sy kollega, Frederick Potgieter (53) van George, bevind hulle in een van Afrika se berugste tronke nadat hulle Donderdag 9 Februarie by die Anda China Malabo-hotel in verband met dwelm-misdrywe in hegtenis geneem is.

Die plaaslike polisie glo dié twee mans het te doen met ’n besending kokaïen wat Ekwatoriaal-Guinee met ’n internasionale vlug binnegekom het.

Huxham en Potgieter is op Vrydag 30 Junie skuldig bevind op aanklagte van handel in en onwettige besit van verdowingsmiddels en 12 jaar tronkstraf opgelê. Elkeen moet ook ’n boete van $5 miljoen (sowat R93 miljoen) betaal, sowel as skadevergoeding. Die mans se prokureur het intussen ’n appèl teen die vonnis ingedien; daar word nog op terugvoering gewag.. ’n Duitse uitruilstudent het Sondag 19 Februarie tragies in ’n botsing gesterf terwyl sy en haar medestudente ’n Sondagsuitstappie geniet het.

Natalie Mankel (22) het haar lewe op die R399-pad verloor toe die geselskap van Piketberg teruggekeer het en onderweg na Velddrif was. Die bestuurder het glo beheer oor die voertuig verloor en dit het die pad verlaat en gerol.

MaartTwee werkers is beseer nadat dakkappe van staal op hulle geval het toe hulle ’n dak opgerig het. Die voorval het Dinsdag 14 Maart by ’n bouperseel in Velddrif gebeur. Charl Thom, ’n Weskus-bekende en oud-rubriekskrywer vir Weslander, is Dinsdag 14 Maart – ses maande voor sy 80ste verjaarsdag – ná ’n kort siekte oorlede.

Charl het Weslander-lesers etlike jare met “Willem Weskus” se “Op die voorstewe”-rubrieke laat skaterlag.

April. Die bekende Weskusser Anthony Vaughn (60) word op 9 April dood gevind langs die Hopefield-pad waar hy vermoedelik afgetrek het voordat hy gesterf het. Geen onraad is vermoed nie.. Die Safcol-rugbyklub van Grabouw, wat vanjaar die Boland Top-12-kompetisie gewen het, het die Roses van Wellington in die Saldanha Top-8-Paastoernooi geklop.. ’n Amerikaanse waaghals en YouTuber, Chase Reinford (29), stort op 12 April neer nadat hy van ’n krans naby Vanrhynsdorp gespring (base jump) het.. Ter viering van die Netbal-wêreldbeker, wat in die Wes-Kaap aangebied is, open die minister Anroux Marais Hopefield se splinternuwe netbalbane by die Ronnie Louw-sportterrein op 19 April.

MeiDaar is vele opslae toe dit aan die lig kom enigeen wat snoek direk by vissers koop, moet ’n geldige kwitansie vir die vervoer van die vis hê. Hoewel dit nie nuwe wetgewing is nie, is talle mense ontstoke gelaat nadat ’n R2 000-boete aan besoekers uitgereik is nadat hulle 50 snoeke sonder ’n kwitansie vervoer het. . Weslander se voormalige spotprent-tekenaar, Marius Fourie, is op 13 Mei oorlede ná ’n stryd teen kanker.

Junie. Die drie verdagtes in die moord op Berodine Boyce, die 16-jarige van Laingville wat in Julie 2018 weggeraak het en wie se lyk 12 Junie 2018 gevind is, word vrygespreek van haar moord. n Video van leerders van die Hoërskool Vredenburg wat appels swaai maak opslae en word op sosiale media versprei. By die Nuwe Vredenburg High School word drie leerders van aanranding aangekla ná ’n aanval op ’n mede-leerder.  Die voormalige polisiebeampte Jean-Paul Malgas (40) oorspronklik van Vredenburg word aangekeer ná ’n reeks gewelddadige voorvalle. Onder dié voorvalle is ’n skietery by die New Somerset-hospitaal in Kaapstad. Hy staan tereg op onder meer drie aanklagte van moord, een van die besit van ’n gevaarlike wapen en twee van poging tot roof van ’n dienspistool.

Julie. ’n Motorfietsryer van Vredenburg is ernstig beseer nadat die bestuurder van ’n luukse motor Sondagoggend 16 Julie na bewering ’n stopteken verontagsaam en voor hom ingery het. Michiel Vollgraaff (30), ’n lid van die Mac’s-motorfietsklub, het ernstige inwendige beserings opgedoen. Hy het wonderbaarlik ná die ongeluk herstel.

Augustus. While spearheading a meeting against crime in the community a ward committee member had to learn the devastating news of his son’s brutal murder following a vicious attack. Eurico van Wyk (31) and his elder brother Whitley (36) were violently attacked by a group of men in Witteklip on Saturday 19 August. Eurico died from his serious injuries at Vredenburg Provincial Hospital.

September. “Hou jul duur nuwe brug, kry net die vragmotors uit ons dorp uit.” Dit was die algemene sentiment van Veldriwwers en Dwarskersbossers op hul vergadering met die Bergrivier-munisipaliteit en twee provinsiale ministers oor die afgelope dekade se verhoogde vragmotorverkeer deur die dorp. A year after suriving another attack on his life, councillor Sibusiso Gqeba was murdered in front of his house just before midnight on 15 September.. Die Weskus het wydverspreide skade beleef ná hewige reënbuie en storms met verskeie paaie wat gesluit is en oorstromings in veral Saldanha. Mense het onder meer skade aan wonings, bome wat ontwortel is en rotse wat geval het by die Weskus-distrik-rampbestuursentrum aangemeld.

Oktober. ’n Voormalige polisie-ordonnans van Piketberg, Richard (Makka) Smit (38), is in die Kaapse hooggeregshof skuldig bevind en lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord met voorbedagte rade van Natasha Booise (32). Hy het haar in Januarie 2022 met sy dienspistool in die middel van die dorp se hoofstraat koelbloedig doodgeskiet. Hy is nog vonnisse opgelê vir onder meer aanranding, poging tot moord en dronkbestuur. ’n Uitgebreide drankvervalsing- en verspreidingsnetwerk word in Piketberg oopgevlek waarna vyf mans – Blessward Kawowdera (31) en Osweld Mtemajri (33) van Zimbabwe, Notime Mutazu (28), Chen Ping (38) en Xialong Chen (57) – in die landdroshof op aanklag dat hulle R8 miljoen se drank wederregtelik vervaardig/vervals het, verskyn het.. Die lankstaankampeerders Hetta van Greunen (62), Ella Ahlers (58) en Ronel Wilde (56) word vir ’n paar dae in die Elandsbaai-kamppeerterrein “gevange” gehou sonder water en krag weens ’n geskil met die Cederberg-munisipaliteit. Ten spyte van hul bewyse dat hulle betaal het, swyg die munisipaliteit oor die geskorste munisipale amptenaar wat daarop aangedring het dat die geld na ’n “verkeersdepartementrekening” oorgeplaas word.. Die beoogde ontwikkeling van die “Vingerhoedhuisie” in Saldanha word vir eers gestaak ná vele vertoë teen die afbreek van dié bekende rietdakgebou. Die eienaar, Louis de Wet, wil woonstelle oprig, maar ervaar sterk teenkanting van organisasies en individue wat dit wil behou.

November. Verteenwoordigers van die Sandveld- en Weskusgemeenskap se vertoë om te keer dat Pierre (59) en Belinda de Kock (56) van die Holvlei-teeplaas in die Aurora-distrik se vermeende moordenaar borgtog kry, werp vrugte af met die Laaiplek-landdroshof wat borgtog aan Phindile Khaya Pone, ’n Lesotho-burger wat vir die De Kocks gewerk het, weier. Die saak kom op 25 Januarie 2024 weer voor. Aiden Mouton (14) van Noordhoek se lyk spoel by die Laaiplek-hawemond by Velddrif uit. Hy en ’n maat het gaan swem tydens ’n erge springgety aan die Weskus. Aiden het in ’n sleurstroom beland en verdrink.. ’n Geliefde rekenaarboffin van 4 Spesiale Magte op Langebaan, Grantham “Kazzara” Snyman (45) van Vredenburg, is op slag dood toe ’n platbak-sleepwa vol houtprodukte van ’n bakkie af losgekom en sy rooi 2002 Volkswagen Polo reg van voor getref het.. Skote klap toe gewapende rowers die “onderste” Shoprite in Vredenburg se hoofstraat probeer beroof, maar weens die flink optrede van ’n wakker personeellid, wat die paniekknoppie gedruk het, het veiligheidswagte, die polisie en munisipale wetstoepassers die rooftog gefnuik. Die maandelikse Sassa- maatskaplike toelae sou dié dag uitbetaal word. ’n Sak geld is teruggevind.

Desember. ’n Herrie breek uit oor genl.maj. Sizakele William Dyantyi, distriksbevelvoerder van die Weskus-polisiedistrik, toe dit aan die lig kom dat die polisie sedert sy “tydelike” aanstelling in Augustus 2022 nog die heeltyd vir sy verblyf in ’n luukse hotel in Saldanha betaal.

Die rekening beloop volgens ActionSA R57 000 per maand terwyl beamptes by die Saldanha-polisie, waar sy afdeling ook gehuisves word, sonder basiese toebehore soos toiletpapier moet klaarkom.

Die Wes-Kaapse polisie se verweer is dat sy aanstelling gedoen is “in belang van die Weskus-gemeenskap”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article