Peet Wittstock met die plank waarmee hy na bewering ‘n man geslaan het. Foto: Skermgreep uit video

Peet Wittstock, ‘n kasbouer van Vredenburg, wat reeds deur ‘n web van klagtes omhul word, word nou deur nóg aanklagte in die gesig gestaar.

Buiten die vrou wat hy glo met R300 000 ingeloop het en waaroor Weslander vroeër vandeesweek aanlyn berig het, het nog ‘n vermeende slagoffer na vore gekom.

Pierre Lourens van Dwarskersbos is na bewering sowat R1,3 miljoen kwyt sonder om enige ingeboude kombuiskaste daarvoor te kan wys. Hy en nog ander klaers is in die proses om hul sake teen Wittstock te laat saamvoeg sodat die Bellvillese handelstak dit as ‘n strafregtelike saak kan ondersoek. “Ek het lankal moed opgegee dat ek ooit die geld gaan terugkry. Dit is nou ‘n beginselsaak. Hy moet aanspreeklikheid aanvaar vir sy dade.”

Dit is vir Lourens ‘n skreiende skande dat iemand ander mense, van wie party glo siek en sterwend is, só kan indoen.

Saam met die aanlyn berig het Weslander ook ‘n video van ‘n beweerde aanrandingsvoorval in oorleg met Novus Media se persombudsman, George Claassen, geplaas. Hy het benadruk dat die plaas van dié video in die openbare belang is.

Daarin konfronteer Rudolf de Villiers, ‘n sakeman van Velddrif, vir Wittstock by ‘n perseel in die Marais-nywerheidsgebied in Vredenburg oor dienste wat hy nie aan Janet Müller gelewer het nie. Wittstock gryp ‘n kombuisdeur en blyk De Villiers daarmee te slaan.

De Villiers het op Dinsdag 11 November ‘n aanrandingsklag by die Vredenburg-polisie teen Wittstock aangemeld. Die speurtak ondersoek tans die saak, maar kon nog nie Wittstock se huidige adres bevestig nie.

Müller het in April 2025 by Wittstock aangeklop vir ingeboude kaste vir ‘n nuutgeboude huis. Sy het ‘n deposito van meer as R300 000 betaal – sowat 90% van die totale bedrag. Die kaste moes teen 14 November voltooi gewees het.

Drie sakename

Dit het nie gebeur nie. “Geen vordering; geen updates; geen verduideliking,” is hoe Müller die weke ná die tyd opsom.

Wittstock het die afgelope paar jaar sake gedoen onder minstens drie name – D5 Artisans, Decko Artisans en, volgens onlangse bewerings, die nuwe Duco Artisans. Klagtes op die verbruikerswebwerf Hello Peter dui op ‘n patroon van grootskaalse deposito’s, min of geen dienslewering, gevolg deur die vinnige stigting van nuwe ondernemings wanneer klagtes teen hom begin opstapel.

Vir al die geld het Müller drie halfvoltooide kasrame wat verkeerd gemeet was en ‘n hoop los planke gekry. Volgens haar is meer as 80% van die werk nooit gedoen nie.

Müller het Wittstock begin ondersoek en met ‘n skok besef dat ander mense ook oor hom kla. Ebensohn-prokureurs in Langebaan, wat Müller in ‘n siviele geding verteenwoordig, het aan Weslander bevestig dat hulle meer as een kliënt het wat siviele sake teen Wittstock aangemeld het. “Elke storie wat ons gevind het, is amper woord vir woord wat ons oorgekom het,” sê Müller, en dit stop nie daar nie.

Müller se geduld was teen Maandag 10 November op. De Villiers is na die

werkswinkel. Daar is aan hom verduidelik dat Wittstock tans sake van ‘n perseel in Mosselstraat bedryf. “Ek wou nie baklei nie, maar vir ‘n plan vorentoe vra.”

Geskors

Müller en Lourens het Wittstock aangestel vanweë sy betrokkenheid by ‘n hoog aangewese tuisteskeppershub in Vredenburg. Wittstock het twee maande gelede as direkteur van dié hub bedank.

Stephanie Forbes, die Wes-Kaapse streekbestuurder die Kitchen Specialists Association (KSA), het ook aan Weslander bevestig dat Wittstock en D5 Artisans in Januarie 2025 weens wanbetaling geskors is.

Volgens Forbes is Wittstock skriftelik ingelig oor die skorsing en opdrag gegee om alle KSA-logo’s en verwysings van sy sosiale media af te verwyder. In Maart vanjaar het die KSA ontdek dat hy steeds die logo’s gebruik en in Mei het KSA ‘n bevel verkry om Wittstock te dwing om op te hou om hul naam te misbruik.

“Die KSA moes uiteindelik ‘n openbare verbruikers-waarskuwing op ons webwerf plaas,” het Forbes gesê.

Sy het verder bevestig dat drie verbruikers hulle vanjaar gekontak het met effens verskillende weergawes van dieselfde klagtes oor Wittstock.

Die klaers het egter nooit formele klagtes by die polisie aangemeld of die KSA van formele dokumente voorsien nie.

Wat De Villiers dwars in die krop steek, is dat Wittstock net voortgaan.

“Die speurtak sukkel om hom op te spoor… Hy’s al klaar weer besig met ‘n nuwe onderneming: ducoartisans.co.za.”

Weslander het Wittstock per e-pos en WhatsApp gekontak, maar al wat hy oor die klagtes én die video te sê gehad het, was dat ‘n prokureur nou die saak namens hom gaan hanteer.

“Die ding gaan te ver. Sal met jou later kan gesels.”

Weslander het aan hom benadruk dat kommunikasie in verbruikersake streng skriftelik gehou word en dat hy die geleentheid moet gebruik om sy kant van die saak te stel en die vrae wat aan hom gestel is, te beantwoord, wat hy steeds nie gedoen het nie.

Iemand wat nou saam met Wittstock gewerk het, beskryf hom as een van die beste kasbouers in die Weskus.

“Hy het net in die moeilikheid beland en kon homself nie weer uitkry nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article