Nóg Weskus-leerders word deur tugstappe in die gesig gestaar nadat die polisie onverwags ’n skool vir artikels, waarvan die besit teen die skool se gedragskode is, kom deursoek het.
Damprooktoestelle (vapes) word nie by skole toegelaat nie en daarom is verskeie leerders by die Cederberg Akademie Dinsdag 19 September in Citrusdal geskors en wag nou op tugoptrede teen hulle, het kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, gesê.
Dié deursoeking en beslaglegging is deur Millicent Merton, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, bevestig. Sy het gesê messe, skêre, dagga, damprooktoestelle en ander onwettige artikels is by die leerders afgevat.
Sy het ook die tugstappe teen die betrokke leerders bevestig en benadruk dat skole openbare ruimtes is ingevolge die Regulasies oor Veiligheidsmaatreëls by Openbare Skole 2001, soos gewysig. Die skrywe verklaar alle skole as dwelmvrye en gevaarlikewapenvryesones en plekke waar leerders moet leer.
“Wapens en dwelms het geen plek in ons skole nie,” het Merton beaam.
Verskeie leerders is al vanjaar by Weskus-skole geskors omdat hulle gevaarlike wapens, dwelms en damprooktoestelle by die skole in hul besit gehad het.




