Pakkies kokaïne is in ’n Polo, onder die spaarwiel versteek, gekry. Foto’s: SAPD


Twee Nigeriese burgers, wat eergister (Dinsdag 26 September) probeer het om kokaïne ter waarde van R578 000 na Saldanha te smokkel, is deur lede van die Weskus- plattelandse blitspatrollie en die Vredenburg-misdaadvoorkomingseenheid uitoorlê.

Volgens kapt. Tania Hellfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is die twee Nigeriërs laat die middag in ’n gesamentlike optrede aangekeer.

Die polisielede het op dié dag inligting ontvang dat dwelms tussen Vredenburg en Saldanha in twee verskillende voertuie, ’n wit Toyota Yaris en ’n wit Volkswagen Polo, vervoer gaan word. Die toegewyde lede het besluit om die booswigte in te wag.

Die Yaris is uiteindelik laatmiddag op pad na Saldanha gesien, waarop die polisielede dit agtervolg en voorgekeer het. Dit is deursoek en kokaïne ter waarde van R13 000 is in die rathefboom se konsole gekry.

Die Polo is volgende opgemerk en ook voorgekeer en deurgesoek. Hier het die polisie met die deursoeking van die bagasiebak op 720 g kokaïne, wat onder die noodwiel versteek was, afgekom.

Die twee verdagtes, 35 en 38 jaar oud, het gister (Woensdag 27 September) in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van en handel dryf in onwettige dwelms.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article