Gerugte dat grond in Laingville, St. Helenabaai, “platgestoot word vir plakkers”, was toe eintlik vir die finale rusplek vir inwoners.
Grondwerk het in die kusdorp begin om ’n begraafplaas van 5,7 hektaar te skep. Volgens Ethne Lawrence, die Saldanhabaai-munisipaliteit se woordvoerder, is hersonering van die gebied aan die gang. Sy sê die proses sal na verwagting teen die einde van Junie afgehandel wees.
Huise word ook naby gebou as deel van die plaaslike nedersettingsprojek.
“Die Saldanhabaai-munisipaliteit het die tender vir fase 1 (50 huise) van die 309 behuisingsgeleenthede in Mei 2022 geadverteer en ’n aanstelling is in September 2022 gedoen.
“Die munisipaliteit het egter ’n appèl ontvang teen die aanstelling van die kontrakteur en is tans besig met die afhandeling van die proses.”
Volgens inwoners is behuising ’n groot probleem in die buurt en ongelukkigheid oor vorige projekte het inwoners tot protesaksie gedryf.
Die oprigting van die nuwe wooneenhede word vir agt maande beraam.



