Ná Sondagmiddag-ete, met ‘n oorvol boepens, plons ek nes ‘n speenvark op die bed neer en wonder – wanneer is te veel te veel, of te min te min?

Dis seker ook ‘n feit dat wat vir jou min is, vir iemand anders oorvloed is. Ons is immers elkeen ‘n unieke wese en gaan mos nie die lewe dieselfde beleef nie.

Dalk is dit soos gesê word – alles met ‘n “te” aan is aan die verkeerde kant van die draad. Te min water is soos ‘n uitgedroogde rosyntjie; te veel water laat ons weer die 40 dae en 40 nagte van reën saam met Noag in die Ark beleef. Dalk is genoeg genoeg solank dit jou en ander nie met seerplekke los nie. Om liggaamlike of siels-seerplekke gesond te maak, is mos maar ‘n uitdaging.

As ‘n mens na die aardse goed kyk, is dit dalk makliker om te bepaal wat is genoeg. Hoeveel geld is genoeg? Moet jy drie huise hê, ‘n Porsche, ‘n Ferrari en minstens drie keer per jaar oorsee gaan vakansie hou? As jy deel is van die minimalistiese beweging, is dit ‘n heel ander storie. Jy het net waarsonder jy nie kan klaarkom nie en nie wat jy nodig het of begeer nie. Die slotsom wat my brein my maak is: genoeg aardse goed is vir jou genoeg sodra jy volgens die lewenstandaard leef wat jou gelukkig maak. As jy die Hollywood-lewenstyl wil leef, hoekom nie? Net so as jy die lewenstyl van die Sewe Dwergies wil leef waar in al jou behoeftes voorsien is en jy elke dag hard werk in die grot op soek na edelgesteentes – dit is ook mos genoeg.

Solank jy gelukkig is met jou lewenstyl.

Dalk moet ons mensdom meer uit dankbaarheid leef; dan sal daar meer glimlagte op gesigte wees as ‘n klomp fronse.

Wat van by die werk? As jy mal is oor jou werk en dit is jou passie, is jy een van die geseëndes op Moeder Aarde. As dit onlekker is by die werk, hoe lank moet jy bly voordat jy die streep trek en jou bedankingsbrief op die baas se tafel gaan neersit? Kyk, elke werk het sy positiewe en negatiewe goed en daar bestaan nie ‘n perfekte werk in ons onperfekte wêreld nie. Daar gaan altyd ‘n mate van stres wees. Gewone en genoeg stres is goed, want dit maak dat jy jou boude van die stoel af oplig en iets konstruktiefs begin doen.

Die probleem is as die stres te veel raak en dit soos ‘n pot melk op die stoof oorkook sonder waarskuwing. Die Engelse mense het ‘n mooi woord vir my. Jy is “overwhelmed”. Dit is nou daai gevoel wat jy net nie meer weet waar om te begin vat of los nie. Dis dan wanneer ‘n mens wens vir Tinkerbel se fairy dust, dan gooi jy al jou papiere in die lug en sodra dit die tafel tref, is als gedoen en uitgesorteer.

As dit ‘n straf is om te gaan werk, het ‘n mens mos ‘n keuse om vir iets anders te begin uitkyk of om weer te gaan studeer of iets. Jy kan mos plan maak; jy hoef nie in die situasie te bly waar jy 24/7 overwhelmed voel nie, want ek belowe jou Tinkerbel se fairy dust gaan jou nie kom red nie.

Die moeilike een is verhoudings. Dis nie net daai vehoudings wat jou aan die begin laat giggel oor als, vlinders in jou maag wakker maak en als is amazing nie. Dit geld ook vir kinders en ouers, vriende en vriendinne. Wanneer draai jy jou rug en stap ‘n ander pad of wanneer skei jy jou ouers/eggenoot? Die Bybel sê jy moet 70 x 7 maal vergewe. Ons almal kry soveel kanse by die Here. Mag ons dan omdraai en opgee? Wat van common sense? Daar kom ‘n tyd dat jy jouself moet beskerm sodat jy die beste jy kan wees. As jy in ‘n situasie is – in enige situasie – en jy kry nie asem nie, is dit nie die wyse ding om te beweeg na ‘n plek waar jy kan asemhaal nie?

Daar is die storie van die vrou wat deur haar man mishandel word. Maak nie saak wat gebeur nie, die vrou het elke aand as die man huis toe kom, gesorg dat hy ‘n gekookte bord kos kry en als reg was by die huis.

Een aand was dit weer sulke tyd. Sy moes weer koes vir die houe en bottels wat na haar kant toe gegooi word. Ja, en toe is sy weer eens uitgesluit, ongeag of dit in die middel van die winter was en sy die minimum klere aangehad het. Sy het maar vir die soveelste keer op die trap gaan sit totdat die deur weer die volgende oggend vir haar oopgesluit word om maar net weer die siklus te gaan. Een oggend was anders. Haar man het by haar kom sit en gehuil en gesê as jy ‘n Heer dien wat vir jou sterk hou en maak dat jy liefdevol bly – ongeag als – wil ek hom ook dien.

Almal is egter nie so gelukkig nie.

Hoe lank moet ‘n mens op die trap van die verhouding/situasie sit? Die vraag wat ‘n mens jouself moet vra is wat doen dit aan my fisieke en geestelike gesondheid, indivi- dualiteit, selfrespek, waardigheid en vrede? As daai balans jou in die bankrot bank gaan laat beland, kies dan ‘n ander trap.

My pa het altyd gesê: As ‘n situasie jou siel seermaak, maak ‘n U-draai en volg die pad waar jy nie pleisters en verbande gaan nodig hê nie.

Elkeen van ons moet maar self die somme gaan maak om te bepaal wanneer is genoeg nou genoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article