’n Landdroshof in Oudtshoorn het bevind prima facie-bewyse bestaan dat nalatigheid gelei het tot die dood van ’n negejarige seun van die Paarl by ’n militêre tentoonstelling in 2017.

Josh Pharaoh, toe ’n gr. 4-leerder aan die Laerskool Noord-Eind in die Paarl, was in April 2017 saam met sy ouma en oupa by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) toe die noodlottige voorval gebeur het.

Josh en sy oom het besoek afgelê by ’n militêre tentoonstelling van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, toe hy binne in die pantservoertuig ernstig beseer is.

Hy het ernstige kopbeserings opgedoen en is in die Life Bay View-hospitaal in Mosselbaai opgeneem, maar het twee dae later aan sy beserings beswyk.

Josh was die enigste kind van die egpaar Nicole en Ryno Cedras.

Landdros Vaughn Shone het Maandag uitspraak gelewer in die geregtelike doodsondersoek.

Volgens die hofuitspraak was die weermaglid, wat op die betrokke dag in beheer van die Rooikat-tenk was, oneerlik in sy verklarings.

Die weermaglid het aanvanklik ontken dat Josh in die Rooikat was, maar nadat videobewyse aan die hof voorgelê is, het sy weergawe verander.

Die video’s toon duidelik dat Josh in die tenk geklim het voordat die weermaglid voortgegaan het om die tenk te bestuur en die loop te draai.

“Dis duidelik uit die video-opnames hoe die oorledene in die voertuig gekom het en dis ewe duidelik dat die weermaglid dit aanskou het. Om welke rede ook al, het hy gekies om daaroor oneerlik te wees,” het Shone gesê.

Die landdros het bevind dat Josh “ten minste met die uitdruklike toestemming van die weermaglid en hoogstens op versoek van die weermaglid” in die voertuig geklim het, ten spyte van die weermaglid se bewering dat niemand in die voertuig toegelaat word nie.

Josh is weens stompgeweld aan die kop dood, en die hof het bevind dat sy dood veroorsaak is deur ’n daad of nalatigheid wat prima facie op ’n misdryf aan die kant van die weermaglid neerkom.

Die landdros het bevind dat Josh se oom, onder wie se toesig hy was, nie aanspreeklik is vir wat gebeur het nie.

“Dis natuurlik dat ’n ouer of voog of enigeen wat toesig oor ’n minderjarige by so ’n geleentheid hou, vertrou dat die persoon in beheer van die tentoonstelling weet wat hy doen en dat dit veilig is om daarmee voort te gaan,” lui die uitspraak.

Josh se oupa en familiewoordvoerder, Hamilton Pharaoh, sê die familie is verheug oor die uitslag hiervan en dat dit sal bydra tot die afsluiting en pynverligting ná die tragiese gebeure.

“Niks sal ooit ons pragtige Josh terug bring nie, maar ons is baie bly sy en ons familie se naam is in ere herstel. Daar is talle leuens ná die voorval vertel, onder meer dat Josh soos ’n stout kind binne die voertuig gaan klouter het en ons hom sonder toesig gelaat het. Dit is ver verwyderd van die waarheid en die hof het dit nou bewys.

“Verder is ons as familie toegewyd om Josh se nalatenskap te laat voortleef met die Josh Pharaoh-beursfonds en die familie se stigting vir uitnemende gemeenskappe se matriekloopbaan-, tutor– en lewensvaardigheidsprogram, wat jongmense ondersteun en lei.”

Die uitslag van die saak sal nou deur die Nasionale Vervolgingsgesag ondersoek word waarop verdere stappe geneem sal word teen diegene verantwoordelik vir die tragedie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article