Frederick Frans, die nuwe hoof van Steynville Sekondêr.

Ná meer as vier jaar as waarnemende hoof by Steynville Sekondêr, neem Frederick Frans amptelik die leisels as die nuwe skoolhoof oor.

Frans het sy studies aan die Universiteit van Wes-Kaapland begin en in 1985 voltooi. In daardie jare was hy nie net ‘n student nie, maar ook by studentepolitiek en natuurlik die stryd teen Apartheid betrokke. “Dit was vormingsjare waarin ek besef het dat onderwys nie net ‘n beroep is nie, maar ook ‘n geleentheid om kinders te help en te inspireer om ‘n better lewe na te streef.

“Ek het my loopbaan as jong onderwyser in 1986 in Piketberg begin. Teen 1995 was ek as departementshoof aangestel. In 2015 het ek die kans gekry om adjunkhoof te word en in 2016 is ek amptelik in die pos aange- stel. Ek gee dus al vir 39 jaar en nege maande klas by Steynville Sekondêr.”

In sy rol as skoolhoof sien Frans uit na ‘n skool waar gehalte-onderrig die wagwoord is en waar elke leerder se prestasie die bewys daarvan is. Hy sien ook daarna uit om die skool se matriekuitslae te verbeter en elke leerder trots met hul sertifikate te sien staan.

“My visie is eenvoudig, maar groot – gehalte-onderrig wat leerders holisties ontwikkel en in goeie akademiese prestasie neerslag sal vind. Natuurlik verwag ek dat ons 2025-matriekklas die grondslag vir goeie matriekuitslae moet lê.

“Ek wil ook hê ons leerders moenie net akademies groei nie, maar ook leer om in hul eie gemeenskap terug te ploeg. Ek glo in respek en deursettingsvermoë en my droom is dat elke leerder wat hier uitstap, daardie waardes sal uitleef.

“Die identiteit van die skool lê my baie na aan die hart. My ideaal is dat mense weer met trots oor Steynville Sekondêr sal kan praat en dat die gemeenskap kan sê ‘dis ons skool, en kyk net hoe ver het ons gekom’.”

Frans meen die leerders is die boustene van die toekoms. “Moenie die waarde van vandag se harde werk onderskat nie. Aan ons onderwysers – hou vas aan julle roeping. Dit is nie net ‘n beroep nie, dit is ‘n nalatenskap. En aan ons ouers en die breër gemeenskap van Piketberg – laat ons hande vat, want dit vat ‘n dorp om ‘n kind groot te maak. Só bou ons nie net ‘n skool nie, maar ‘n hele toekoms.

“My droom is dat Steynville oor drie jaar bekend sal staan as ‘n skool wat op alle terreine uitblink en respek afdwing – nie net in Piketberg nie, maar die hele Weskus en die Wes-Kaap.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article